OUDTSHOORN NUUS - Die Patriotic Alliance (PA) het die week aangekondig dat hulle in die komende verkiesing saam met vyf politieke partye, waarvan twee uit die Oudtshoorn-streek kom, kragte saamsnoer in 'n poging om die DA op 29 Mei as regerende party in die Wes-Kaap uit die kussings te lig.
Colan Sylvester, voormalige burgemeester van Oudtshoorn en die stigter van Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (OGI), Leon Campher, voormalige onderburgemeester van Oudtshoorn, raadslid en stigter van Dysselsdorp Advieskantoor, Noël Constable wat die Karoo Democratic Force (KDF) lei, Goliath Lottering wat die Karoo Gemeenskapsparty (Prins Albert) lei en Gert Laban wat Witzen-berg Aksie lei, was dié week saam met die PA in Kaapstad waar Gayton McKenzie, PA se president, tydens 'n mediakonferensie die koalisie bekendgestel het.
Nie een van die vyf politieke partye gaan in die nasionale verkiesings meeding nie.
Die PA het by monde van Sydney James, uitvoerende lid van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, gesê van die hoofredes vir dié besluit is dat agtergeblewe gemeenskappe honger ly, sowel as die hoë werkloosheidsyfer in die Wes-Kaap.
McKenzie, het op 'n onlangse pers-konferensie sy party se motivering breedvoerig verduidelik.
"Mense sterf sinneloos in ons gemeenskappe en die huidige regering doen absoluut niks daaraan nie. Die DA-regering spandeer byvoorbeeld meer publieke fondse op die paaie van skatrykbuurte soos Constantia as wat gespandeer word op byvoorbeeld die Sentraal Karoo se paaie. Gaan kyk bietjie na die DA se top-20-kandidaatlys vir die parlement - daar is nie een coloured op nie.
"Wat die ergste is, is dat wanneer daar gevra word hoekom dit so is, dan is die antwoord dat die lys op meriete saamgestel is. So wat probeer jy nou eintlik vir die coloured mense van die provinsie sê? Uit sommige oorde word selfs gesê ons speel die rassekaart, maar dit is glad nie so nie. Inteendeel, ons het geen ander kaart om te speel nie.
"Die feite is so helder soos daglig vir almal om te kan sien. In hierdie verkiesing gaan die DA nie eers 30% op homself kan verenig nie. Sy stronghold is in die Kaapse Metro waar onse mense is. Die enigste verskil tussen die DA en die ANC is dat die DA slimmer konkel om hul eie agenda te bevorder vir hul eie belangegroepe. Na hierdie verkiesing gaan daar 'n nuwe regering aan bewind wees in die Wes-Kaap," het McKenzie gesê.
McKenzie het ook gewaarsku dat sou die PA aan bewind kom dat onwettige immigrante hul sakke moet pak en padgee uit die land uit.
"Onwettige immigrante is tans besig om Bellville in Kaapstad totaal en al oor te neem. Op 30 Mei sal ons begin met massa deportasie terug waar hulle vandaan kom."
Wat moontlike samewerking met ander partye betref, het McKenzie gesê dat die PA bereid is om met enige party te werk.
"Aan die einde van die dag gaan dit nie oor ons nie, maar waaroor ons kan saamstem wat dan in bindende kontrakte saamgestel word."
DA
Volgens 'n verklaring van die DA se provinsiale kommunikasiekoördineerder, Melt Botes, is die DA die enigste party in die Wes-Kaap wat 'n prestasierekord het en die plan het om vir die mense van die provinsie te lewer.
"Trouens, vandag was ons premiers-kandidaat, Alan Winde, in Athlone om ons belofte uit te pak om 800 000 nuwe werksgeleenthede in die Wes-Kaap te skep. Daarteenoor, waar die PA regeer, is hul prestasierekord een van korrupsie en diensleweringsmislukking. Dit maak nie saak met wie hulle in koalisie is nie, die uitkoms is altyd dieselfde.
Al wat Gayton McKenzie uiteindelik doen, is om die ANC/EFF/PA-koalisie van korrupsie in die Wes-Kaap uit te brei. Een ding is duidelik, 'n stem vir die PA is 'n stem vir die ANC. Trouens, ons is verbaas dat hulle nie vandag saam met Gayton McKenzie aan tafel gesit het nie. Geen bedrag van goedkoop politiek of truuks kan die feit toesmeer dat waar die PA regeer, die mense onder hul mislukkings ly nie.
Daarom is dit belangrik dat die kiesers op 29 Mei die PA/ANC-koalisie van korrupsie uit die Wes-Kaap hou, en eerder DA stem vir 'n Wes-Kaap wat werk," lui verklaring.
OGI
Sylvester het by navraag gesê dat OGI se samewerking met die PA reeds in 2021/22 begin het met 'n samewerkingsooreenkoms op plaaslike regeringsvlak in Oudtshoorn. Vandag se aankondiging behels die samewerking om plaaslike kiesers te werf om die PA te steun in die nasionale en provinsiale verkiesing.
"Ons besef dat ons nie net nasionaal nie, maar ook op provinsiale regering verandering nodig het en besef ook dat die PA daardie verandering kan te weeg bring. OGI se ondervinding met McKenzie is dat hy 'n eerbare leier is wat nie net beloftes maak aan gemeenskappe nie, maar uit sy pad gaan om sy ondernemings na te kom."
Dysselsdorp Advieskantoor
Oudtshoorn Courant kon nie na die aankondiging met Campher kontak maak nie, maar tydens die perskonferensie het Campher gesê dat die PA die enigste party is wat sy taal praat as dit kom by onderwerpe soos die terugkeer van die doodstraf en geloof.
"Ons het besluit om die PA te help omdat Gayton McKenzie een van ons eie mense is. Na amper 30 jaar kan ons uiteindelik stem vir ons eie president vir ons land. In die verlede was die coloured stem goed genoeg, maar as dit by werksgeleenthede kom was die coloured nie swart genoeg of nie wit genoeg nie. Ons is moeg van die DA en ANC - ons soek verandering," het Campher gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’