OUDTSHOORN NUUS - Johan Allers is gisteraand, Donderdag 9 Julie, deur die Vryheidsfront Plus (VF Plus) aangewys as dié party se burgemeesterskandidaat in Oudtshoorn vir die plaaslike regeringsverkiesings wat op 4 November plaasvind.
Die aankondiging is tydens die VF Plus se nasionale leier, dr. Corné Mulder, se besoek aan Oudtshoorn gemaak waar hy ondersteuners in die stampvol Rembrandt-saal by die CP Nel-museum toegespreek het.
Danie Akker, Wes-Kaapse voorsitter van die VF Plus, het daarna aangekondig dat Allers die party se burgemeesteerskandidaat is. Allers was Oudtshoorn se burgemeester vanaf Julie 2024 tot vroeg in 2026.
Na sy aanwysings het Allers gesê hy gaan hom steeds beywer vir deursigtigheid, integriteit en dienslewering in belang van die gemeenskap.
Tot dusver is dit net die VF Plus en die DA wat hul Oudtshoorn-burgemeesterskandidate vir die opkomende verkiesing amptelik aangekondig het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’