OUDTSHOORN NUUS - 'n Aantal lede van die EFF (Economic Freedom Fighters) Oudtshoorn-tak het verlede Donderdag 'n memorandum aan hooflanddros Jaco Lambrechts oorhandig.
In die memorandum vra hulle onder andere dat die verdagte in 'n skietvoorval in Volmoed nie voorkeurbehandeling moet kry nie. Hulle beweer die man wat van poging tot moord aangekla word nadat hy glo 'n man omgery en op sy vrou en nog mense geskiet het, kry voorkeurbehandeling van die polisie en in die hof. Volgens die memorandum word die voorval op Volmoed as rassisties beskou.
Die 65-jarige Beneke het na bewering op 10 Maart vir Pieter de Bruyn omgery, en daarna glo op sy vrou, Hester, en nog mense geskiet. Borgtog van R5 000 is drie dae later aan hom toegestaan. Die EFF is van mening dat borgtog té vinnig toegestaan is.
Volgens Liza Cremer, distrikshof beheeraanklaer, het die polisie en die staat nie verkeerd opgetree nie en is bewerings dat Beneke voorkeurbehandeling kry van alle waarheid ontbloot. Volgens haar het die polisie reg opgetree deur Beneke na die hospitaal te neem omdat hy siek was.
"Die polisie het 'n verantwoordelikheid teenoor mense wat hulle in hegtenis neem."
Cremer sê die staat het vir sewe dae uitstel gevra vir die borgtogaansoek, maar dit is deur die landdros geweier wat die volgende dag borgtog aan Beneke toegestaan het.
Terwyl die groepie EFF-lede verlede Donderdagoggend buite die hof vergader het om hul memorandum aan Lambrechts te oorhandig, het Beneke weer vlugtig in die hof verskyn en later verby hulle gestap sonder dat hulle hom herken het.
Landdros The-Olén November het die saak vir verdere ondersoek tot 25 Mei uitgestel en Beneke se borgtog en borgtogvoorwaardes tot dan verleng.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'