OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn gons die afgelope week oor gerugte van DA-raadslede wat glo oorweeg om by die ANC aan te sluit. Die DA se politieke hoof van Oudtshoorn, Tertuis Simmers, het egter Woensdagmiddag gesê sover hy kon vasstel is dit bloot gerugte en dra hy geen kennis van raadslede wat bedankingsbriewe geskryf het nie.
Gerugte het op sosiale media begin rondvlieg nadat daar op die Facebook-blad van Pierre-André Nel 'n plasing gemaak is met die name van die burgemeester en nog twee DA-raadslede wat hulle glo by die ANC gaan skaar.
Die Oudtshoorn Courant het Sondagaand die name van ses DA-raadslede ontvang wat glo na die ANC wou oorloop. Die burgemeester, Colan Sylvester, het Woensdagoggend telefonies gesê dit is onsin.
Hy het daarop gewys dat hy as proporsionele lid eenvoudig deur die DA vervang kan word en dus geen waarde tot die ANC kan toevoeg nie.
Hy het ook gesê hy weet nie van ander raadslede wat wil oorloop nie. Simmers het gesê die indruk wat op Facebook-blaaie geskep word dat DA-raadslede wat by die ANC aansluit raadslede bly, is verkeerd.
"Sodra 'n raadslid bedank is hy nie meer 'n raadslid nie. Daar moet 'n tussenverkiesing in sy wyk gehou word indien hy 'n verkose raadslid was."
Die name wat aan die Oudtshoorn Courant gegee is, is almal wyksraadslede met die uitsondering van die burgemeester. Sou hy besluit om die DA te verlaat word 'n ander raadslid eenvoudig as burgemeester aangewys.
Die Oudtshoorn Courant het ook beweringe ontvang dat ten minste een DA-raadslid wel verskeie vergaderings met die ANC gehad het, maar dit kon tot dusver glad nie bevestig word nie.
Terwyl hierdie kwessie op baie mense se lippe is, is daar egter 'n groter prentjie wat teen hierdie agtergrond afspeel. Die laaste raadsvergadering op Oudtshoorn is op 28 Februarie gehou. Sedertdien is daar nog nie weer een gehou nie.
Terwyl ander dorpe in die streek se konsepbegrotings reeds voorgelê is, is Oudtshoorn s'n nog glad nie op die tafel nie.
'n Tweede navraag oor hierdie kwessie is hierdie week aan Anton Bredell, minister van plaaslike regering gestuur, waarin hy spesifiek gevra word wat die spertyd vir die voorlegging van begrotings is. Teen Donderdag is geen antwoord ontvang nie.
Sover die Oudtshoorn Courant kon vasstel moet 'n munisipaliteit se konsepbegroting teen 31 Mei voorgelê word. Sou dit nie gebeur nie moet die provinsie binne 'n maand, dit wil sê teen einde Junie, ingryp en 'n begroting opstel.
Dit beteken by implikasie dat die dorp dan onder finansiële administrasie kan wees. Verskeie belangegroepe op die dorp, waaronder AfriForum en RED Oudtshoorn is besorg oor die huidige stand van sake en het weereens 'n beroep op die minister gedoen om dringend aandag aan die kwessie te gee.
Dit is duidelik dat raadsvergaderings om een of ander rede uitgestel word.
Hierdie kwessie tesame met gerugte oor tweespalt onder die DA-raadslede, tweespalt tussen sommige raadslede en die munisipale bestuurder asook kriminele klagtes wat verlede week gelê is, laat vrese onder inwoners ontstaan dat die dorp weer soos 'n paar jaar gelede, in 'n situasie sal verval waar persoonlike agendas bo dié van die gemeenskap gestel word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'