Standbeelde en erfenisgebiede wat veral betrekking het op die geskiedenis van wit Suid-Afrikaners word op verskeie plekke in die land beskadig en gevandaliseer.
Dit volg nadat studente van die Universiteit van Kaapstad geëis het dat die standbeeld van Cecil John Rhodes, wat op die kampus staan, verwyder word. Rhodes was Eerste Minister van die Kaapkolonie gedurende die laat 1800’s en plekke soos Rhodesië (huidige Zimbabwe) en Rhodes Universiteit in Grahamstad in die Oos-Kaap is na hom vernoem.
Intussen het verskeie ander standbeelde ook deurgeloop, met die jongste voorvalle in Pretoria en Port Elizabeth.
Nou ontstaan die vraag of dit ook na Krugersdorp gaan oorspoel, wat na die eertydse President van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal), Paul Kruger vernoem is.
Amanda de Lange, ‘n Vryheidsfront Plus raadslid vir Krugersdorp het gesê dit sal nie gebeur nie.
“Ons gaan nie terugstaan en kyk hoe ons geskiedenis herskryf word deur opposisiepartye wat dink deur die standbeelde om te trek moet dit verskuif word nie.”
Verskeie standbeelde staan nog onbeskadig in Krugersdorp, waaronder een van Paul Kruger en van JG Strijdom, Eerste Minister van Suid-Afrika gedurende die 1950’s.
