NASIONALE NUUS - Meeste Suid-Afrikaners is kranige braaiers. 'n Skaaptjoppie of 'n goeie stuk beeshaas verdien sy plek op die braai, maar moenie die braaibroodjie vergeet nie.
Hier volg 'n paar watertand idees om die gewone braaibroodjie 'n bietjie ekstra skop te gee.
Bestanddele
- Brood
- Botter
- Mozzarella-kaas
- Bloukaas
- Opgekapte spek
- Ingelegde groenvye
- Sout en peper na smaak
Metode
- Braai die opgekapte spek in 'n pan. Jy kan dit bros maak of net gaar. Besluit self.
- Sit dit eenkant om af te koel.
- Smeer jou brood met botter.
- Sommige mense smeer die brood aan die binnekant, ander aan die buitekant. Dit is 'n persoonlike keuse.
- Plaas gerasperde mozzarella-kaas op die brood, dan die spek, bloukaas, vye, sout en peper.
- Braai tot die brood goudbruin is en die kaas gesmelt.
- Bedien as bykos of 'n vinnige middagete.
'n Bielie van 'n braaibroodjie met mozarella-kaas, groenvye, spek en bloukaas.
Ander vulsels
- Gebraaide, opgekapte hoenderborsies, mayonnaise, spek, blatjang, grasuie (of gewone uie) en mozzarella-kaas.
- Gebraaide uie, sampioene, groenrissie en die kaas van jou keuse
- Marmite en uie (probeer dit net, jy sal verbaas wees)
- Piesang, kaas, tamatiesous en ham
- Kaas, ham en pynappelstukkies
- Fetakaas, basiliekruidblare en tamatie
- Gekaramelliseerde uie, soetrissiesous (of blatjang), kaas en tamatie
Jy kan ook natuurlik chutney op enige braaibroodjie smeer. Soos hulle sê: "Chutney of glad nie."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'