Update
OUDTSHOORN NUUS - Die DA se burgemeester en speaker in Oudtshoorn is vanoggend tydens ‘n spesiale raadsvergadering met twee lede van Icosa vervang. Die vergadering het plaasgevind nadat dit verlede Vrydag uitgestel is aangesien die Da se speaker, Julia Le Roux, siek was. Sy was vanoggend steeds siek en die ander 11 DA-raadslede het nie die vergadering bygewoon nie.
Mosies van wantroue in die burgemeester Chris Macpherson, en die speaker Julia le Roux, is vanoggend deur 13 raadslede van die ANC (9), Icosa (2), EFF (1) en Sarco (1) aanvaar.
Die nuwe burgemeester is Vlancio Donson en die speaker is Barbara Owen, albei van Icosa. Gevan Juthe van Sarco, is steeds die onderburgemeester.
Juthe het in sy rol as onderburgemeester, die Wes-Kaap se minister van plaaslike regering, Anton Bredell, versoek om ‘n persoon te stuur om tydens vanoggend se vergadering die verkiesing van ‘n nuwe speaker te fasiliteer. Dean O’Neill, munisipale bestuurder van Overstrand, het vanoggend voorgesit tydens die aanwysing van ‘n interimspeaker.
Jongelizwe Tyatya (ANC) is as interimspeaker aangewys om die mosies van wantroue te hanteer asook die voorstelle van ‘n nuwe burgemeester en speaker.
Die ANC was tot drie weke gelede in die minderheid met nege raadslede terwyl Sarco, Icosa en die EFF met die DA saamgewerk het. Dié drie partye het egter hulle ooreenkoms met die DA verbreek en skaar hulle nou by die ANC.
In reaksie op vanoggend se vergadering, wat nie deur die DA bygewoon is nie, het Macpherson per WhatsApp-boodskap gesê hulle het nie die vergadering bygewoon nie aangesien hulle geglo het dat onwettige besluite ten opsigte van die aanstelling en verskuiwing van amptenare ook op vanoggend se agenda was.
‘n Vorige poging deur die opposisiepartye om daardie besluite deur te voer is tans voor die hof. Wat vanoggend se verwydering en aanstelling van ampsdraers aanbetref, het hy gesê dat die DA die mosies en die aanstelling van ‘n nuwe burgemeester en speaker as deel van die demokratiese proses ag en dus die meerderheid se besluit aanvaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'