NASIONALE NUUS - Met ‘n vriendelike “hallo, tannie” groet Anika Barnard (10) my. Stroopsoet, soos ‘n regte poppie, sit sy op haar ma se bank en wag vir my en haar ma, Santie, om by haar aan te sluit.
Review lesers het verlede jaar met Anika kennis gemaak. Anika, of Ani soos haar ma haar noem, is sonder oë gebore. Santie en haar man, Kobus, het Anika aangeneem toe sy ses jaar oud was.
Santie onthou toe hulle vir Anika gekry het, kon sy nie praat nie, haar hande was krom en sy het haar gesig heeltyd na onder gehou.
Vandag is Anika ‘n selfstandige, onafhanklike jong meisie wat nie toelaat dat haar gebrek in haar pad staan nie.
“Ek is in ‘n nuwe skool, Prinshof Skool vir die visueel gestremde in Pretoria, waar ek hard moet werk en hard moet leer,” vertel sy trots. “Ek bly by tannie Stella Bernings en ry elke dag met die bussie skool toe.”
Santie vertel dat hulle baie gelukkig was om vir Anika blyplek te kry.