CALITZDORP NUUS - Verlede Saterdag, 1 November, was ’n geskiedkundige dag in die bestaan van die Calitzdorp United Congregational Church toe die gemeente na etlike jare sonder ’n herder, weer ’n eie predikant gekry het.
Eerwaarde Nathalie Moos is Saterdag eers as leraar van die United Congregational Church of Southern Africa (UCCSA) georden en daarna as predikant van die kerk ingehuldig.
Die bevestiging en inhuldiging is deur die sekretaris van die SA Sinode, eerw. B Swartz waargeneem. Die diens is gelei deur die moderator van die Outeniqua-streek, eerw. E Jingqi, en bygewoon deur predikante van die streek se sewentien kerke asook predikante van ander genootskappe.
Volgens die sekretaresse van die Calitzdorp gemeente, kom die kerk deur ’n moeilike tyd en moes wyksdiakens vir lank die geestelike werk doen. Omdat die kerk nie ’n eie predikant gehad het nie, en konsulente van tyd tot tyd aangestel is, het van die gemeentelede na ander kerke getrek.
Eerw. Nathalie Moos is die eggenote van eerw. Donald Moos van die Weyers Memorial United Congregational Church in Oudtshoorn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’