VOERTUIG NUUS - Ondanks politieke onsekerhede en 'n swak rand het voertuigverkope in November vanjaar nogtans goed presteer en is die totaal van 49 754 steeds 3 357 eenhede beter as in November verlede jaar.
Dit was veral passasiersvoertuie wat presteer het met 'n totaal van 32 821 - 'n verbetering van 4 614 verkope. Hiervan was bykans 20% aankope deur die verhuringsmark.
Onder die toptien maatskappye is Toyota (11 441) steeds baas danksy goeie syfers deur Hilux, die individuele topverkoper met 3 243 eenhede, en ewe goeie prestasies deur Corolla/Auris/Quest (1 711), Fortuner (1 080) en Etios met 1 541 eenhede wat nuwe eienaars gekry het.
Volkswagen is oudergewoonte in die tweede plek met 'n stewige 7 438 verkope - danksy Polo Vivo se 1 900 wat hom die toppassasiersmotor maak, Polo op 1 848, en die groep se Audi-handelsmerk wat 'n stewige 1 071 verkope aangeteken het.
Volkswagen sal egter bekommerd wees oor Ford (7 260) wat in sy nek blaas en op die punt staan om die tweede plek in te neem.
Alle oë is dus op Volkswagen se volgende geslag Polo wat vroeg in die nuwe jaar aankom. Ford, soos altyd, steun grootliks op Ranger (3 058), EcoSport met 1 324 en Fiesta met 1 063 verkope.
Die vierde plek behoort aan Nissan (4 692), gevolg deur Hyundai op 3 265 en Isuzu op 2 670.
Isuzu, wat intussen van General Motors "afgestig" het, sal veral dankbaar wees vir die 516 kopers wat ten gunste van die Opel-handelsmerk gestem het.
Mercedes-Benz (2 007) het mooi gevorder van die negende plek in Oktober tot sewende algeheel, terwyl KIA se 1 883 verkope aan hom die agtste plek besorg - een plek swakker as in Oktober vanjaar.
Ook Renault (1 825) se negende plek is ietwat swakker as 'n maand gelede toe die Franse invoerder agtste was.
Mazda, wat die tiende plek beklee danksy verkope van 1 162 eenhede, sal nou ook kort-kort oor sy skouer moet loer na Suzuki wat skitterend gevaar het met 1 045 verkope.
Binnekort, glo ek, sal Suzuki onder die toptien gereken word, terwyl 'n gereelde toptien presteerder, BMW, moes toesien hoe sy beskeie 1 095 verkope hom uit hierdie uitgelese groep verwyder het.
Onder die vervaardigers/invoerders buite die toptien, sal Subaru begin naels kou oor sy 107 (Oktober) wat tot 76 gedaal het, terwyl Volvo Cars se 214 verkope waarskynlik binnekort 'n aansienlike hupstoot gaan kry na die internasionale bekendstelling van die puik nuwe XC40.
Ander vervaardigers wat die oog gevang het, sluit Porsche (101) in, wat moeiteloos elke motor verkoop wat hulle in die hande kan kry.
Peugeot het tot 103 verkope gevorder na 'n Oktober-teleurstelling van 73. Bentley is by ses nuwe eienaars afgelewer is en Ferrari het drie verkope aangeteken.
Oorsigtelik, wat 2017 betref, lyk dit asof totale verkope nagenoeg 2% beter sal wees as in 2016, danksy kortings wat aangebied word, omvattende aankope deur die verhuringsbedryf en die vooruitsig van beter uitvoere in 2018.
TOPTIEN PASSASIERMOTORS
- Volkswagen Polo Vivo - 1 900
- Volkswagen Polo - 1 848
- Toyota Corolla/Auris/Quest - 1 711
- Toyota Etios - 1 541
- Ford EcoSport - 1 324
- Toyota Fortuner - 1 080
- Ford Fiesta - 1 063
- Hyundai i20 - 819
- Renault Kwid - 757
- Volkswagen Golf - 7 702
TOPTIEN LIGTE HANDELSVOERTUIE
- Toyota Hilux 3 243
- Ford Ranger 3 058
- Toyota Quantum 1 560
- Isuzu KB 1 499
- Nissan NP300 1 465
- Nissan NP200 976
- Nissan NV350 Taxi 393
- Hyundai H100 284
- Volkswagen Amarok 254
- Chev Ute 198
Oorsigtelik, wat 2017 betref, lyk dit asof totale verkope nagenoeg 2% beter sal wees as in 2016, danksy kortings wat aangebied word, omvattende aankope deur die verhuringsbedryf en die vooruitsig van beter uitvoere in 2018.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'