MOTOR NUUS - Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) het 2017 weer as markleier afgesluit en in Desember verlede jaar die beste verkoopsyfers vir passasiersvoertuie en ligte handelsvoertuie aangeteken. Toyota is ook die enigste vervaardiger wat die passasiersmotor- en LHV-verkope in die jaar in dieselfde maand oorheers het.
Hilux het ook geskiedenis gemaak deur Suid-Afrikaanse markleierskap die 45e keer in die afgelope 48 jaar te haal in kleinhandelverkope. Altesame 36 422 nuwe eenhede het in 2017 eienaars gekry – 3 636 meer as die naaste mededinger. Die Hilux het met verkope van 3 382 in Desember, sy naaste mededinger gemaklik met 701 eenhede getroef.
Die Toyota-span (gesteun deur Lexus en Hino) het uit ’n vervaardigersoogpunt 'n manjefieke 9 958 voertuie in die uitdagende Desember van die hand gesit – 4 527 eenhede meer as die naaste ander vervaardiger.
Dit is ’n insiggewende prestasie vir Toyota in die lig van die feit dat die plaaslike motorbedryf 40 631 eenhede in Desember verkoop het – 1 013 voertuie minder as in dieselfde maand in 2016 (41 644).
Die Desember-syfer bied egter geen rede tot kommer nie, aangesien die verkoopsyfer vir 2017 met 1,8% teenoor dié van 2016 gestyg het. Altesamw 557 586 nuwe voertuie is in 2017 in Suid-Afrika verkoop teenoor ’n saamgestelde 547 547 eenhede die vorige jaar. Toyota het ook ’n dubbelsyfer-markaandeel vir ligte handelsvoertuie (34%), medium handelsvoertuie (22,8% veral danksy Hino-vragmotors) en passasiersvoertuie (18,7%) gehaal. Die maatskappy se algehele markaandeel in 2017 het tot ’n indrukwekkende 22,9%, (21,4% in 2016) gestyg.
Desember was ’n gesonde maand vir ander segmentleiers soos Fortuner (1 108), Quantum (1 136) en RAV4 (791) wat hul oorheersing behou het. Die Hino 300-reeks het die jaar op nog ’n hoë noot afgesluit met ’n markaandeel van 27,3% vir mediumgroot handelsvoertuie.
Calvyn Hamman, die TSAM se senior visepresident van verkope en bemarking, stel dit as volg: “Dit voel asof ons in ’n oorgangsfase is – ons vier Toyota se merkwaardige verkoopsvertoning in 2017 en word terselfdertyd deur nuwe teikens vir 2018 in die gesig gestaar.
“In ware Toyota-gees is ons van plan om die dwarslat vir vanjaar nog hoër te stel – nie net wat verkoopsteikens betref nie, maar ook die gehalte van diens wat ons aan ons klante lewer.”
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'