OUDTSHOORN NUUS - Die afgelope naweek is die Suid-Kaap se grootste ovaalbaanresies, die Richard Griessen Repairs Klein-Karoo-kampioenskappe, vir die 28ste jaar op Oudtshoorn aangebied.
Sowat 126 renmotors het in 13 klasse deelgeneem en in al die klasse was daar hope aksie.
Die vonke het behoorlik gespat in die 1660 Hooligans-klas. Daar was nie minder as 24 inskrywings nie en die klerk van die baan, Riaan Keyser, het besluit om almal saam te laat deelneem. Op 'n stadium was daar nie minder nie as 13 stukkende motors op die binneveld.
Burger van der Westhuizen, die jong jaer van Oudtshoorn, het almal se monde laat oophang met sy vertoning in die 1660-klas met sy geleende CMS Golf. Hy het tweede geëindig in die tweede uitdun, die derde uitdun gewen van heel agter, en die finaal skitterend in die laaste draai gewen.
Die gemodifiseerde V8-klas het ook vir hope aksie gesorg. Hier was die slagting byna net so groot. Een van die groot name wat in die slag gebly het was Bennie Greyling van George. Greyling het sy Chev teen die muur beskadig en sy motor se agtervlek het gebreek. Met geen traksie op die agterwiele nie, het hy besluit om sy motor op die sleepwa te laai.
Die ovaalbaangemeenskap wens vir Dirk van der Westhuizen geluk met nog 'n suksesvolle byeenkoms wat hy en sy span gereël het. Dankie ook aan Richard Griessen Repairs wat al vir 21 jaar die byeenkoms borg.
Lees meer in hierdie week se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'