OUDTSHOORN NUUS - Meer as 30 Ford-motors wat ouer as 80 jaar is, het verlede week die land se tweede oudste Ford-handelaar, Oudtshoorn Ford, vereer.
Die eienaars van die Fords het aan die Ford Veteraan- en Noag-toer deelgeneem wat verlede week in Oudtshoorn tuisgegaan het, en die afgelope naweek deel was van die George-oumotorskou.
"Die besoek aan die Ford-handelaar op Oudtshoorn, wat die tweede oudste in Suid-Afrika is, was 'n besondere hoogtepunt van ons verblyf in Oudtshoorn die afgelope week," het Philip Kuschke, organiseerder van die Ford-toer gesê.
Meer as 50 voertuie wat voor 1930 vervaardig is en waarvan die meeste Ford Model T, S en A ingesluit het, het aan die Ford-toer deelgeneem.
Woensdagmiddag het sowat 30 van dié Fords in Voortrekkerweg voor die Ford-handelstak parkeer, terwyl die sowat 100 deelnemers 'n skemerkelkie geklink het op die 98ste verjaarsdag van die handelstak.
"Die handelstak in Oudtshoorn is in 1920 deur Amalgamated Motors geopen," sê Rudi van Dyk, handelaarshoof van die handelstak.
"Die eerste Ford-handelstak in Suid-Afrika is in 1918 in Port Elizabeth geopen en die tak op Oudtshoorn was die tweede een."
Die tak het in die sewentigerjare na die huidige perseel in Voortrekkerweg verskuif.
Volgens Van Dyk, wat onlangs by dié handelstak aangesluit het, word die perseel opgeknap in aanloop tot die 100ste verjaarsdag in Augustus 2020.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'