MOTOR NUUS - Roy Bitzer, voormalige nasionale ovaalbaanrenkampioen, het die afgelope naweek weer agter die stuur van sy V8-renmotor ingeskuif tydens byeenkomste in George en Oudtshoorn.
Bitzer, wat sedert 2000 'n ywerige mededinger in dié sport is, was in beide 2013 en 2016 die Suid-Afrikaanse kampioen.
Die 2016-titel was 'n besondere prestasie aangesien hy in Desember 2014, na 'n motorongeluk, die gebruik van sy bene verloor het en vandag rolstoelgebonde is.
"Ek mag verlam wees, maar kan nog my hande gebruik. As ek in die renmotor is, is daar geen onderskeid tussen my en die ander jaers nie; dan is daar net een doel en dit is om te wen," vertel 'n beskeie Bitzer wat, soos sy pa, daarvan hou om renmotors te bou.
Trouens, sy pa se liefde vir en betrokkenheid by die sport het sy belangstelling geprikkel. "My eie renmotor het ons self opgebou, dit was 'n wrak wat ons weer reggemaak het. In my eie renmotor het ons self die handkontroles ontwerp en ingebou, want deesdae bestuur ek met die linkerhand, en beheer die versneller, remme en ratte met die regterhand." Hy sê hy en sy pa het reeds meer as 200 renmotors gebou.
Bitzer (36) het onlangs vanuit Bloemfontein, waar sy renloopbaan begin het, na Mosselbaai verhuis en is steeds 'n motorwerktuigkundige wat tans 'n rolstoel bou waarin hy regop sal kan staan terwyl hy werk.
Die George-renbaan is bekend vir die spoed wat die renmotors behaal en Bitzer sê sy renmotor is dalk meer geskik vir die langer renbaan op Oudtshoorn.
In die stuurkajuit van sy V8-renmotor is daar geen onderskeid te maak tussen die parapleeg Roy Bitzer en enige van die kompetisie nie - dan geld net die vooruitsig om te wen.
"Ek is baie opgewonde om weer deel te neem. Ek het soveel vriende en mense wat my help en motiveer, ek kan net dankie sê. Die lekkerste is om as gelyke geag te word, daar is geen genade of onderskeid net omdat ek in 'n rolstoel by die renbaan opdaag nie," aldus Bitzer.
Hy verkies steeds die groot V8-enjin van sy renmotor en sy gesig helder op as hy van die spoed en adrenalien praat wanneer hy beskryf hoe tegnies en berekende renjaers die renne benader.
Anders as jare gelede toe motorsport as gewilde tydverdryf gereeld op televisie uitgesaai is, lok die sport deesdae weinig nasionale dekking, maar bly 'n uiters aanskoulike byeenkoms. In die Suid-Kaap kan geesdriftiges gerus vir Roy Bitzer dophou, hy het groot en vinnige planne.
Roy Bitzer is 'n ywerige werktuigkundige wat self, van skroot tot renmotor die voertuig waarmee hy deesdae meeding omgebou het.
Roy Bitzer se renmotor nadat hy dit omgebou het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'