MOTOR NUUS - Mitsubishi het 'n beperkte uitgawe van sy gewilde ASX Sport met 'n magdom gratis bykomende toerusting bekendgestel.
Die ASX Sport is 'n motor met sportnutseienskappe vir die stylvolle avonturier met genoeg ruimte vir praktiese en veelsydige gebruik, asook veiligheidseienskappe.
Die opgegradeerde model bied beter waarde en 'n meer sportiewe voorkoms. Altesame R30 000 se bykomende toerusting is ingesluit, waaronder inligtingvermaak-raakskerm met Apple CarPlay en Android Auto. Die nuwe Mitsubishi ASX Sport is op die Mitsubishi ASX GLX geskoei en is in grys en wit beskikbaar.
"Ons teikenmark sluit klante in wat die voordele van 'n kompakte sportnuts wil hê - ruimte, veiligheid en praktiese eienskappe. Die voertuig bied 'n hoër rit en is maklik om te bestuur, terwyl dit tog die brandstofdoeltreffendheid van 'n kleiner motor het," sê Nic Campbell, hoofbestuurder van Mitsubishi Motors Suid-Afrika (MMSA). "Hierdie klante gebruik hul voertuie op die dorp, op verkenning na die platteland en vakansie."
Die ASX Sport het talle standaardeienskappe soos dagryligte, veelsydige sitplekverstellings en 'n groot bagasieruim asook gevorderde passiewe en aktiewe veiligheidtegnologie. Laasgenoemde sluit in: sewe lugsakke en hoëintensiteit-kopligte, asook 'n magdom gratis ekstra toerusting.
VOORKOMS
Buiten die meer sportiewe voorkoms om by sy nuwe naam te pas, kan die ASX Sport van ander weergawes onderskei word deur die Sport-kenteken - insetsels en strategies geplaasde swart en oranje stroke wat die motor 'n sterk en slanke voorkoms gee.
Die grootste toevoeging tot die ASX Sport is die nuwe Apple- en Android-verbindings van die opwindende nuwe inligting- en vermaakstelsel.
Die fabrieksgemonteerde stelsel pronk met 'n 7"-loodkristalvloeiskerm, Bluetooth, GPS, Android Auto en Apple CarPlay, elektroniese skakelaars en USB-verbindings.
Die Bluetooth-verbinding maak handvrye oproepe en musiekstroming via die slimfoon moontlik en alles kan deur die raakskerm beheer word. Insittendes kan met die nuwe stelsel altyd in verbinding bly en Apple CarPlay of Android Auto gee vermaak, gebruikervriendelikheid - oral en altyd.
Die ASX Sport met sy meer sportiewe voorkoms het spesiale ASX Sport-matte binne as 'n herinnering aan die verbeterde styl van die voertuig. Die nuwe ASX Sport se deure sluit outomaties nadat die voertuig weggetrek het, vir gemoedsrus in die stad en die oop pad.
ENJINKRAG
Die ASX Sport beskik oor 'n MIVEC-enjin van 2,0 liter, 'n vyfgang-handratkas en 'n 63-liter-brandstoftenk wat 'n reikafstand van tot 800 km op die oop pad bied.
Veiligheidseienskappe sluit in: 'n versterkte (RISE) romp, sewe lugsakke, syslagstawe, verminderde gevaar van sweepslagbeserings, beskerming teen die rempedaal wat die kajuit in die geval van 'n botsing kan binnedring, frommelbare stuurkolom, Isofix-ankerpunte vir kinderstoele, sluitwerende remme (ABS), elektroniese remkragverdeling (EBD), remhulp (BAS), parkeerhulp en 'n truratkamera vir maklike parkering.
BINNEKANT
Die binnekant het leerbekleedsel met verhitte voorste sitplekke en 'n elektries-verstelbare bestuurdersitplek, asook sleutelvrye toegang en aansluiting.
Die GLX Sport is toegerus met 'n panoramiese glasdak om die natuur te bewonder.
"Die nuwe Mitsubishi ASX Sport Limited is die ideale oorgangsvoertuig na 'n sportnuts vir jong gesinne of stedelinge wat die buitelug ook graag wil beleef," sluit Campbell af. "Die onveranderde prys in vergelyking met die standaardmodel bied ongeëwenaarde waarde wat waarskynlik nie gou herhaal sal word nie."
BESONDERHEDE
Die stylvolle ASX Sport se huidige prys is R399 995. Die voertuig word net soos die res van die ASX-reeks deur 'n fabriekswaarborg van drie jaar of 100 000 km en 'n diensplan van vyf jaar of 90 000 km gedek. Diensintervalle is elke 15 000 km.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'