Gallery
MOTORNUUS - Motorsportjoernalis Francois Germishuys het onlangs by die Meyer-familie se nuwe werkswinkel, Cobra Tech gaan inloer om oor hulle passie, ovaalbaanrenne, en hulle spruit, Divan Meyer se belowende wedrenloopbaan te gesels. Pa Clive het sommer so tussen die motorpraatjies deur 'n nuwe dynometer geïnstalleer.
Ovaalbaanrenne is in die Meyers se bloed en Clive is al sedert 2002 op ovaalbane in aksie. Hy het sy eie loopbaan afgeskop in 'n blou Alfasud terwyl ma Vicki in 2016 die sport met 'n VW Golf betree het.
In 2018 besluit die 6-jarige Divan hy is ook lus vir 'n bietjie ovaalbaanaksie en begin jaag in die Ninja Midget-klas in Bredasdorp - met groot sukses.
In 2019 neem hy deel aan Quad-wedrenne in Oudtshoorn en George en word so gebrei vir die groter en vinniger voertuie wat wag.
In 2020 laat Clive hom meeding in die SWD-ovaalbaanreeks in die nuwe Mini-klas. Divan, toe net 8 jaar oud, het van die staanspoor af vuurgemaak in die klas en bykans elk van sy wedrenne gewen.
FOTOGALERY - Divan Meyer skitter op ovaalbane
In 2020 wen hy die SWD-klubkampioenskap se Mini-klas en eindig tweede in die SWD-kampioenskappe. Divan verower ook dieselfde jaar die grote: die Mini-klas in die Klein-Karoo-kampioenskappe en spog nou met sy Mini op die wen-volstruiseier.
In 2021 wen hy weer die SWD-klubkampioenskap in die Mini-klas en kom eerste in die SWD-kampioenskappe.
Divan Meyer looi sy Mini op die Oudtshoorn-baan.
Vanjaar is Divan as lid geregistreer by die Cape Hell Drivers in Kaapstad waar hy nou teerbane gaan jaag en Clive het 'n tweede Mini gekoop wat vir teer opgestel is.
Met die koop van die teer-Mini by Gunter Trotsky in Kaapstad, het Gunter vir Divan na sy kantoor geroep en 'n renpak van R40 000 aan hom oorhandig. As deel van sy borgskap sal Gunter, soos Divan groei, die peperduur renpak vorentoe vervang. Vanjaar sal Divan omtrent elke derde naweek moet Kaap toe om aan renne op teer deel te neem.
Clive moes die nuwe Mini se vloer verander sodat Divan se voete by die pedale kan bykom, maar sê Divan groei nou vinnig, want na elke tweede wedren moet hy die sitplek hoër stel.
Met pa Clive en ma Vicki wat beide skitter op die ovaalbane, het klein Divan sy visier daarop gestel dat "SA 1" eendag op sy V8-ovaalbaanmotor sal pryk. Clive kyk juis daarna om sy talentvolle seun binnekort na die ontwikkelingsklas te skuif.
Carmag hou die jonge heer se renloopbaan met valkoë dop.
En dan is daar sussie Isabella, wat op net 6 jaar oud, gretig wag dat pappa ook háár renloopbaan aan die gang sit.
Sussie Isabella, boetie Divan, pa Clive en ma Vicki by Clive se V8-monster. Foto's: Francois Germishuys
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'