KANNALAND NUUS - Die nuus dat John 'Meester' Michaels, oudskoolhoof van Saint Agnes Primêr op Zoar skielik verlede Saterdag, 15 April, in die ouderdom van 83 jaar gesterf het, het die gemeenskap van Ladismith en Zoar, in geskok gelaat.
John Michaels is in Riversdal gebore het as jong onderwyser 'n betrekking op Zoar buite Ladismith aanvaar. Dit was dan ook hier waar hy sy vrou, Hettie Hess, ook onderwyser, ontmoet het.
Die paartjie het later in die huwelik getree en is twee kinders, 'n seun Derrick en dogter Beverley gebore. Beverley het spesiale versorging nodig gehad en het meester Michaels na die dood van sy vrou self met die versorging van Beverley voortgegaan en haar nie in 'n plek van versorging laat opneem nie.
Michaels en sy seun, Derrick, sou ook later begin om wonings van inwoners met diefwering te beveilig. Hul diefwering sou uniek wees in die opsig dat geen twee huise se vorm van diefwering dieselfde sou wees nie.
Vader Noël Weber van die Saint Agnes Anglikaanse Kerk in Zoar en eertydse kollega waar Michaels hoof was, het Saterdag tydens die begrafnisdiens in sy boodskap verwys na die pynlik netjies man wat hy as hoof geken het.
"Meester was 'n trotse persoon met 'n penregop-stap, kalm persoonlikheid en kon jy nooit werklik peil wanneer hy kwaad was nie. Hy het die skoolklok op 'n spesifieke manier gelui, slegs sy gewrigte gebruik om die klok te lui."
Willem Fuller, wat 'n leerder van Michaels was het op sy beurt Michaels as 'n diep-Christelike persoon beskou. Fuller het gesê dat Michaels hom altyd by die huis kom haal het om sieke-nagmaal vir sy dogter, Beverley, te bedien en het hom ook as 'n "bidder" bestempel.
Meester Michaels word deur sy seun, skoondogter en kleindogter oorleef.
Meester se seun Derrick, en sy gesin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’