OUDTSHOORN NUUS - "Jy sien die ongeluk gaan gebeur; jy sien dit kom, maar jy kan niks doen nie. Jy vries so half en jy weet jy kan dit nie keer nie."
So vertel Dewald Ferreira, die afsetbeampte wat die afgelope naweek met slegs 'n snyplek aan sy been en 'n paar bloukolle, van 'n ongeluk op die ovaalbaan af weggestap het.
Ferreira was een van minstens vyf mense wat in die ongeluk betrokke was. Niemand is ernstig beseer nie.
Verskeie video's van die ongeluk, wat tydens die Klein-Karoo Kampioenskappe plaasgevind het, is wyd op sosiale media gedeel. In die video kan gesien word hoe die motors op die baan jaag en 'n wit motor en blou motor skielik bots. Die blou voertuig het die sementmuur getref en deur die lug getrek en op die veiligheidsheining te lande gekom. Oomblikke daarna kan gesien word hoe Ferreira deur die motor teen die heining vasgedruk word.
Nooddienste en paramedici was vinnig op die toneel om almal te help.
Dewald Ferreira
"Dit is regtig genade dat niemand ernstig beseer is nie. Daar was van die toeskouers op die pawiljoen wat ook beseer is, maar niemand het ernstig seergekry nie," vertel hy.
Ferreira sê hy beskou dit eenvoudig net as 'n ongeluk.
"Ek is nie kwaad nie, en ek leef. Met die volgende resies is ek weer op my plek as beampte langs die baan. Ek doen dit al 15 jaar."
Hansie Moore
Hansie Moore was die bestuurder van die blou voertuig wat deur die lug getrek het.
Wilna Moore, Hansie se vrou, sê dat haar man ook nie ernstig beseer is nie.
"Sy lyf is ongelooflik seer. Sy nek veral. Hy praat ook nie eintlik daaroor nie."
Moore sê sy is net ongelooflik dankbaar.
"Ek kan vir niemand beskryf hoe dit gevoel het nie. Dit was so onwerklik en toe besef ek, ek moet hardloop om daar te kom, maar ook daai vrees van wat wag vir jou as jy daar kom."
Moore sê terwyl sy na haar man toe gehardloop het, het sy die heeltyd die kommentator hoor vra of Hansie okay is.
"Ek wou eintlik net hoor Hansie ís okay!"
Dirk van der Westhuizen, organiseerder van die geleentheid, het gesê dat daar nog nie so iets op Oudtshoorn se ovaalbaan gebeur het nie.
"Dit was 'n reuseskok om dit voor jou te sien afspeel. Ek het my koud geskrik. Ons is net dankbaar dat almal leef."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’