KAROO NUUS - Met drankverkope wat al drie keer opgeskort is, staar veral die wynbedryf en restaurante 'n baie lang herstelproses in die gesig. Wynkelders kon vir 18 weke uit 'n totaal van 38 weke geen besigheid doen nie.
Volgens Boets Nel van De Krans in Calitzdorp, het veral die laaste drankverbod hulle heeltemal onkant betrap.
"Hierdie keer kon ons nie veel doen toe die lockdown einde Desember begin het nie. Voete by die kelder en bistro het oornag byna verdwyn. Op 28 Desember het ons ons beste dag van die seisoen gehad, maar op 29 Desember was daar minder as 10% van die vorige dag. Ongelukkig moes ons alle tydelike personeel, wat oor die seisoen gewerk het en nog sou werk tot aan die einde van die skoolvakansie, se kontrakte opskort."
Elana Grundling van Grundheim sê hulle verliese was ook baie groot en selfs al kan hulle nou weer hulle proelokaal volgens normale ure bedryf, het besoekerstalle so afgeneem dat hulle nou slegs van Maandae tot Vrydae tussen 09:00 en 17:00 oop is.
"Mens kan ons per afspraak op 'n Saterdag besoek, maar ons het gevind dat mense nou minder oor naweke rondry en daarom het ons besluit om vir eers ons ure te beperk."
Volgens Carel Nel van Boplaas in Calitzdorp is hulle proelokaal oop, maar hulle bistro is gesluit.
"Die drankverbod het ons ook swaar getref, maar die geluk by die ongeluk is dat ons as gevolg van die droogte 'n kleiner produksie gehad het en dus nou nie met 'n oorskot sit nie."
Volgens hom is daar tans meer as 600 miljoen liter wyn wat in tenks by groot wynkelkders staan omdat die mark so verswak het. Nog 'n plaaslike wynkelder, Karusa, het ook die geleentheid met die opheffing van die drankverbod aangegryp en is weer soos normaalweg vanaf Maandag tot Saterdag oop vir wynproe en etes.
Alhoewel drankverkope toegelaat word, word restaurante nog deur die aandklokreël gekniehalter. "Ons grootste besigheid is in die aande, en met die aandklokreël moet mense nou vroeër klaarmaak, wat 'n reeds sukkelende bedryf nog verder strem. Onthou, ons kan nie net eenvoudig optel waar ons verlede jaar opgehou het nie, ons moet nou werk om 'n inkomste te verdien en om die agterstand wat opgebou is te probeer inhaal," het Christoff Bezuidenhoud van La Dolce Vita, gesê.
Boets Nel het gesê almal in die bedryf sal nuut moet dink en nuut moet beplan.
"Ons is gelukkig dat ons byvoorbeeld nou besoekers kry wat kom druiwe pluk en die bistro besoek, maar dit is gespanne tye en ons hoop dat die twee hofsake wat die drank- en wynbedryf aanhangig maak, 'n verdere verbod op drankverkope sal kan voorkom."
Mense kan van nou af tot en met 7 Maart by De Krans hanepoot pluk.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'