OUDTSHOORN NUUS - 'n Dorp se sukses hang nie slegs af van die owerhede nie, maar ook van die ingesteldheid en betrokkenheid van elke inwoner. Hierdie is die uitgangspunt en hoofbeweegrede agter die Ek is Oudtshoorn-inisiatief van die Oudtshoorn-besigheidskamer.
Die besigheidskamer het tydens 'n werksessie spesifieke projekte uitgelig om Oudtshoorn se beeld en ekonomie te verbeter. Een van daardie projekte is die Ek is Oudtshoorn-projek wat deur Jaco Vorster, bekende sakeman van die dorp, bestuur word.
Die eerste daadwerklike stap om die projek 'n hupstoot te gee is 'n kompetisie om 'n embleem te ontwerp wat die boodskap, Ek is Oudtshoorn, oordra.
Inwoners het tot 30 Julie geleentheid om hulle inskrywings voor te lê. "Inskrywers hoef nie oor kennis van grafiese ontwerp of ingewikkelde rekenaartegnologie te beskik nie, 'n gewone skets van die embleem is voldoende," sê Vorster. Grafiese kunstenaars se hulp sal ingeroep word om die wen-inskrywing finaal af te rond.
Volgens Vorster wil die besigheidskamer met die Ek is Oudtshoorn-projek die boodskap oordra dat elke inwoner, ongeag sy posisie of kwalifikasie, kan bydra om die dorp suksesvol te bemark en groei te stimuleer.
"Sodra elkeen van ons besef ons verteenwoordig die dorp sal ons ook besef dat die boodskap wat van die dorp af uitgedra word van ons afhang en dat elkeen van ons die mag het om 'n verskil in die dorp te maak."
Die wen-embleem sal as die kenmerk van Ek is Oudtshoorn gebruik word. Die persoon wat die wen-inskrywing ontwerp sal nie net die voorreg hê om sy of haar ontwerp oral te sien nie, maar daar is ook 'n prys van 'n unieke tweedag Oudtshoorn-ervaring wat 'n nag se verblyf en alle etes vir twee persone insluit, op die spel.
Inskrywings, vergesel van die ontwerper se persoonlike inligting kan tot 30 Julie by Die Oudtshoorn Courant, Die Herrie, Die Hoorn, Camp Roadhouse of Wes-Handelshuis ingehandig word.
Navrae oor die kompetisie en die Ek is Oudtshoorn-inisiatief kan aan Jaco Vorster by 082 490 2397 of jacovorster@jjz.co.za gerig word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'