KAROO NUUS - Nadat swaar reën en hael op 3 November in die De Rust-omgewing en die Blomnek- nedersetting geval het, is daar oomblikke later laat weet dat Meiringspoort vir verkeer gesluit gaan word.
Volgens Gerhard Otto, hoof van rampbestuur by die Tuinroete-distriks-munisipaliteit, was daar twee vragmotors in die modder vasgekeer toe die rivier afgekom het.
Hierdie water wat in Meiringspoort gevloei het was van die Klaarstroom opvangsgebied afkomstig nadat dit daar ook hard gereën het.
Otto vertel dat 162 mm reën by Rietbron geval het en 40 mm by die meetstasie in die Droërivier gemeet is.
Betsie Britz, inwoner van wyk 11, De Rust, vertel dat daar 'n waarskuwing van swaar reën uitgestuur is, maar hulle glad nie die skielike haelstorm te wagte was nie. "Die hael moenie gesien word as negatief nie, dit is 'n groot seën, dit gaan lê in die beddings en maak die grond lekker nat," vertel sy.
Britz het ook dadelik die inwoners van De Rust in kennis gestel toe die reservoirs afgeskakel is om te verhoed dat modder en sand van die vloed in Meiringspoort in die reservoirs inloop.
Jan van der Ross, wyksraadslid van De Rust, vertel dat 'n wolkbreuk, gepaard met hael, skielik oor De Rust en Blomnek uitgesak het. "Die hael het gelukkig nie baie skade aangerig nie, dit was gou verby, maar baie mense in die Blomnek-omgewing het groot skade as gevolg van die wolkbreuk gelei."
Volgens Van der Ross het daar 'n storm na die hael losgebars en veroorsaak dat gedeeltes van Blomnek verspoel het - water, klippe en modder is deur sommige inwoners se huise.
Daar is ook 'n waterkanaal, wat aan die agterkant van 'n paar huise verbyloop, wat oorspoel het en vyf inwoners se huise binnegestroom het.
"Die water het by die laagliggende areas opgedam en oor die strate se kante gespoel. Ek vermoed die rede is dat die dreineringstelsels verstop het. Ek is net bly dat niemand se huis ingestort het of dakke afgewaai het nie," vertel hy.
Die water het grond en klip in die strate meegesleur. Foto: Jan van der Ross
Verspoelings by Blomnek. Foto: Jan van der Ross
Water van die swaar reën het deur sommige inwoners van Blomnek se wonings gestroom. Foto: Jan van der Ross
JC du Preez, van die plaas Spitskop in die Oudemuragie-omgewing, vertel dat hulle die reën te wagte was met die bedompig en warm dae wat hulle gehad het voor die tyd.
"Hier op die plaas was daar nie reën- of haelskade nie, dit het sag gereën en ons het so 40 mm reën gehad. Met die reën het daar 'n bietjie water in die plaas se damme gevloei, maar nie baie nie," sê hy.
Hy vertel dat hulle voorberei het en die ooie en lammertjies onderdak gejaag het. Volgens Du Preez ontvang die area meestal winterreën, maar, voeg hy by, dat dit deesdae baie wisselvallig is.
Die vragmotor en bestuurder het na opruimingswerk weer Meiringspoort verlaat.
Damvlakke na die reën:
- Kammanassiedam staan tans op 3,8% - geen water gekry
- Stompdriftdam staan tans op 23,85% - dit was op 8%
- Raubenheimerdam – 76,90% - reënval in die afgelope week was 22%
- Melvilledam - 100%
Verwante artikel: Haelstorm tref Klein Karoo
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'