OUDTSHOORN NUUS - Geen virus of gekanselleerde fees plaas 'n demper op die Oudtshoorn reWOLusie nie. Al was die kleurvolle wolbomme aan bome en pale slegs vir drie dae in die dorp se strate te sien, is die lede van die reWOLusie reeds weer besig en die naalde klik behoorlik om honderde komberse te maak.
Volgens Madeleine Miles, die koördineerder van die projek, het Absa hierdie week 3 000 bolle wol by haar afgelewer vir die 67Blankets-projek.
Die kombersprojek word landwyd gehou en daar word gepoog om 67 000 komberse vir behoeftiges in te samel.
Miles sê al die wolskeppings wat deel was van vanjaar se reWOLusie word reeds in komberse omskep en van die deelnemers het reeds aan nuwe komberse begin werk.
"Ons het reeds 1 400 bolle van Absa se wol aan mense uitgedeel en ek glo dat die Oudtshoorn reWOLusie se bydrae een van die grootstes gaan wees. Met die algehele inperking gaan daar definitief meer tyd wees vir hekel en brei."
Die besending van 3 000 bolle wol wat deur Absa geskenk is. Foto verskaf
Die 67Blankets-projek wil vanjaar 'n wêreldrekord opstel met die grootste kombers ter wêreld met die 67 000 komberse wat langsmekaar uitgepak word.
Volgens Miles kom al die komberse wat deur Oudtshoorn geskenk word, weer terug hierheen na die rekordpoging, om aan behoeftiges in die gemeenskap uitgedeel te word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'