OUDTSHOORN NUUS _ Die bekende akteur, medeskrywer van reekse soos Isidingo en vervaardiger van verskeie realiteitsreekse, Andrew Wilson, het Donderdagaand, 11 Augustus, 'n boekgesprek met Hannes Visser oor sy debuutboek, The Fourth Boy, gevoer.
Die gesprek is deur die Vriende van die CP Nel Museum gereël en het in die volstruissaal van die museum plaasgevind.
Dit is toepaslik dat die gesprek by die museum plaasgevind het, aangesien die verhaal afspeel teen die agtergrond van die ongeveer 500 Poolse weeskinders wat tydens die Tweede Wêreldoorlog na Oudtshoorn gekom het. 'n Monument met die name van al die kinders en hul versorgers is 'n tyd gelede by die museum opgerig.
Die hoofkarakter se pa is in die verhaal een van die Poolse kinders.
Die boek speel af in Oudtshoorn, De Rust, Prins Albert en Van Wyksdorp in die 1980's en handel oor 'n fiktiewe joernalis, Grant Asher, wat op sy ma se sterfbed uitvind sy pa, wat hy nie geken het nie, is homoseksueel, asook 'n Jood.
Hy besluit om sy pa op te spoor, dit neem hom na Oudtshoorn net om uit te vind sy pa is vermoor. Na die nuus besluit hy om meer uit te vind oor sy pa se moord. Die navorsing laat hom glo dat daar 'n reeksmoordenaar in die Karoo doenig is.
'n Reeksmoordenaar wat veral fokus op mense wat deel uitgemaak het van die 500 Poolse Joodse weeskinders wat in die 1940's vanuit Siberië in Rusland na Suid-Afrika gestuur is.
Karina Szczurek, die uitgewer is kinderlik opgewonde oor die publikasie en noem dat Wilson 'n merkwaardige skrywer is wat meesterlik 'n storie so geskryf het dat dit dadelik die leser intrek.
"Dit is 'n storie van liefde, verlies en verraad," het Wilson gesê. Die teerheid waarmee Wilson die verhouding tussen liefde en vriendskap uitbeeld is uitsonderlik en meesterlik geskryf.
Visser het tydens die gesprek verwys na die uitsonderlike vermoë wat Wilson het om dialoog te skryf en die leser in die verhaal intrek deur nie net te vertel wat gebeur nie, maar met beeldspraak en beskrywings presies te wys wat gebeur.
Wilson het tydens die gesprek enkele gedeeltes uit die boek voorgelees en vrae van die gaste beantwoord. Na afloop van die gesprek het gaste met 'n glasie wyn en ligte eetgoed gekuier en verder met die skrywer gesels.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’