OUDTSHOORN NUUS - Andrew en Glenn Eriksen, eienaars van die Cango Wildlife Ranch, is terug op Oudtshoorn na hulle vier jaar gelede na Isle of Wight in Engeland verhuis het.
Tammy Moult, assistent direkteur: toerisme by die Ranch, sê die Eriksens se terugkeer kon nie op 'n beter tyd gebeur het nie.
"Dit is blote genade dat hulle terug is, want niemand anders sou die leisels so stewig kon vashou en die gemoedere so positief gehou het tydens die storm wat ons tans deurgemaak het nie."
Moult sê danksy die Ericksens se meer as 30 jaar ervaring by die Ranch, die konneksies wat hulle opgebou het en die ondersteuning van weldoeners kon hulle daarin slaag om die werk van 140 werknemers te red.
"Die belangrikste van als was dat hulle ons diere kon red en kon keer dat die bewaringsfasiliteit nie nog 'n Covid-19-statistiek word nie."
Moult sê die Ranch het R8 miljoen verloor in die vier maande tydperk wat hul deure weens die Covid-19-pandemie gesluit was.
"As dit nie vir die wêreldwye ondersteuning was en die fenomenale ondersteuning van die plaaslike publiek nie sou ons dit waarskynlik nie oorleef het nie. Ons het skenkings van altesaam R3,8 miljoen ontvang. Ons ondersteun 65 besighede in die Oudtshoorn-gemeenskap en dit is verblydend om te sien dat dieselfde besighede ons in ons tyd van nood kon help."
Moult sê hulle bedank almal wat tydens die pandemie gehelp het om die Ranch staande te hou.
"Ook aan elke personeellid wat sonder enige vergoeding steeds kom werk het en ons plaaslike gemeenskap wil ons uit ons harte bedank vir elke bydrae wat julle gemaak het. Sonder julle sou ons dit nie kon doen nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'