OUDTSHOORN NUUS - 'n Sakeman van Oudtshoorn en die organiseerders van die Prins Albert-leesfees is vasbeslote om die omstandighede van 'n geliefde inwoner van Prins Albert te verander.
Tussen hulle is twee projekte tans aan die gang ten bate van die blinde rolstoelgekluisterde, Piet Cordier wat een van Prins Albert se bekendste inwoners is.
Cordier se manmoedige verhaal van 'n leeftyd met 'n dubbele gestremdheid is tans in 'n hoofstuk waar hy hom sonder inkomste onder 'n boom oorkant sy geliefde winkel in die dorp se hoofstraat bevind.
Cordier (60) het sy oë as baba weens retinoblastoom verloor, en as blinde tiener het hy sy bene in 'n treinongeluk by Touwsrivier verloor.
Die afgelope twee maande is Piet werkloos, nadat hy sy kafee, Lekkerbek - wat agttien jaar deel was van die dorp – verloor het. Piet is ook 'n klavierstemmer, sanger en kitaarspeler.
Piet moes in 2014 die perseel in die middel van die dorp, waar Lekkerbek geleë was, afstaan en 'n goedkoper perseel aan die onderpunt van die hoofstraat huur.
As gevolg van die verskuiwing en die markkragte van groter ondernemings op Lekkerbek se drumpel het sy getal kopers begin daal.
Die uiteinde was dat hy handdoek moes ingooi.
Deesdae sien jy hom soms onder 'n boom in die hoofstraat sit, om die laaste van sy Lekkerbek-voorraad te verkoop.
"Dis die eerste keer dat ek aan myself as gestrem dink," vertel Cordier. Hy het sonder oë en bene leer leef, en goed aangepas, "maar ek vind werkloosheid is die eintlike gestremdheid".
Piet Cordier voor die laaste perseel vanwaar hy die Lekkerbek Kafee bedryf het, By hom is Lourens Erasmus wat Piet se regterhand en oë in Lekkerbek was. Foto: Marlene Malan
Soms dink hy daaraan om tóg sy lewensverhaal te skryf, sê hy. "Toe ek 'n kind was, het ek 'n goeie sangstem gehad. Toe ek ophou sing het, het ek begin hakkel.
'n Onderwyser het toe vir my gesê ek mis die aandag.
Nou is ek eintlik bang vir aandag, want ek onthou daardie woorde.
"Sedert ek Lekkerbek verloor het, raak ek snags wakker. In my drome sukkel ek altyd. Ek droom dit oor en oor. Ek voel deesdae hartseer, so hartseer, dat dit fisiek pyn.
"Ek is nie gereed om tuis te sit en niks doen nie. Ek het nie afgetree nie. Ek hou nooit op dink aan wat ek volgende kan doen nie."
Verlede jaar het Cordier saamgewerk met Hélène Smit, 'n mede-Prins Alberter, aan haar dokumentêre film Eerstewater.
Hierin vertel verskeie inwoners, onder andere Cordier, hul lewensverhaal, praat oor hul lewensuitkyk en hul vriendskappe. Vir die eerste keer toon Cordier ook sy sang- en kitaarspeeltalent op die grootskerm.
Eerstewater word op 2 November as deel van die Prins Albert Leesfees by die Showroom Theare in Prins Albert vertoon. Die opbrengs van die vertoning sal aan Cordier geskenk word.
Smit sê Cordier lewer 'n groot bydrae tot Eerstewater. "Piet was, met die maak van die film, baie behulpsaam.
"Hy is 'n interessante, wyse mens, 'n bate vir ons dorp, met 'n gesindheid van vriendelikheid teenoor almal. Hy is 'n positiewe inwoner, altyd nederig.
"Ek het die aand gereël om vir Piet dankie te sê vir sy bydrae tot ons dorp."
Oudtshoorn projek
Sonder dat hy van die Showroom se inisiatief bewus was, was Deon Bosman so aangegryp deur Cordier se verhaal dat hy dadelik besluit het om iets te doen.
"Hier is 'n man wat sy hele lewe lank ten spyte van sy gestremdheid, vir homself en sy gesin gesorg het. Nou moet hy onder 'n boom sit en omtrent aalmoese ontvang. Dit is nie regverdig nie," het Bosman hierdie week gesê.
In samewerking met OSSA (Oudtshoorniete Staan Saam Assosiasie) het hy 'n geldinsamelingsveldtog begin om Cordier by te staan.
"My hoop is om genoeg geld te kry om Piet weer die geleentheid te gee om 'n winkel te bedryf. Ek daag die mense van Oudtshoorn uit om hulle harte oop te maak vir iemand wat nog nooit in sy lewe vir iets gevra het nie,"
Bosman was reeds by verskeie projekte betrokke waar geld vir mense met spesifieke behoeftes, ingesamel is.
Mense wat 'n bydrae wil maak kan Deon Bosman by 044 279 3022 of 082 459 0674 skakel.
Vir kaartjies teen R50 vir die vertoning van Eerstewater kan The Showroom gekontak word by 023 5411 563 of kaartjies kan aanlyn bespreek word by www.showroomtheatre.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'