Die Oudtshoorn Courant het die hond Saterdagoggend by die skut afgeneem nadat hy die vorige aand geskut is.
Nico May, die skutbestuurder, het die hond in Coetzeestraat, Bridgton verwyder nadat Roger Anthony en nog ‘n man deur die hond aangeval is terwyl hulle besig was om ‘n voëlhok by ‘n vriend se huis op te rig. Die hond behoort aan die bure, en het vermoedelik oor die muur gespring omdat hy honger was, en hulle aangeval. Anthony is aan die regterarm en linkerhand gebyt terwyl die ander slagoffer aan die been gebyt is. Tydens die koerant se besoek was die hond rustig en het hy toegelaat dat skutwerkers hom streel.
Hy het egter Sondagoggend kort nadat hy geëet het, ‘n gedaanteverwisseling ondergaan en die 46-jarige Pieter Jaer aangeval terwyl hy die hond se hok skoongemaak het. Jaer het Woensdag in sy hospitaalbed by die Mediclinic Oudtshoorn vertel dat die hond geen aanduiding gegee het dat hy hom gaan aanval terwyl hy in die hok besig was nie.
“Ek het my rug gedraai om die vloer skoon te spuit en hy moes toe vorentoe gekom het. Ek het gevoel iets druk teen my rug en besef dis die hond wat teen my opspring, ek het gedink hy wil speel.”
Jaer vertel dat hy omgedraai het en dat die hond hom toe aan sy regterarm beetgekry het. “Hy het niks gegrom of iets nie, hy het net gebyt en vasgehou aan my arm. Ek het besef dat ek moet kalm bly want die honde in die hokke langsaan was rustig en ek wou nie hê hulle moet begin blaf en hom aanspoor nie.”
Hy het daarin geslaag om die hond met die tuinslang in die gesig te spuit waarop die hond sy arm gelos het. Hy het die hek agter hom oopgekry en begin uitbeweeg, maar die hond het hom aan sy regterhand beetgekry. Hy het probeer om die hond se kop by die hek uit te kry om sy nek daarmee vas te knyp. ‘n Kollega het gelukkig onraad gemerk en daarin geslaag om Jaer se hand te bevry. Jaer het Dinsdag ‘n operasie ondergaan om ‘n gebreekte been in sy hand te heg en was teen gister steeds in die hospitaal.
May het Woensdag bevestig dat hy al die nodige verslae ten opsigte van die aanvalle voltooi het en reeds die eienaar van die hond in kennis gestel het dat die hond uitgesit gaan word.
Die Amerikaanse veghond (pit bull) wat drie mense gebyt het, word die week deur 'n veearts uitgesit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'