OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-brandweerdienste spog met 'n splinternuwe brandweerwa, asook 'n kragopwekker om te verseker kragtoevoer en kommunikasie by die brandweerstasie word nie onderbreek nie.
Die Wes-Kaapse regering het R1,2 miljoen bewillig vir die aankoop van die brandweerwa, terwyl Santam R250 000 geskenk het vir die aankoop van die kragopwekker.
Santam se skenking is deel van die munisipaliteit se vennootskap met besighede.
Die munisipale bestuurder, Allan Paulse, het Santam geloof vir die skenking en gesê: "Julle het na vore gekom in vennootskap met die munisipaliteit, in 'n tyd wat ons onder finansiële druk is. Dit is geld wat ons nie gehad het nie."
Hy het aan Santam se verteenwoordiger, Simon Morrily, gesê: "Julle doen goeie werk. Julle beskerm lewens en help om brande te bestry, deur die skenking."
Morrily het op sy beurt gesê hy hoop die skenking sal die standard van dienslewering verbeter.
Dr. Sandra Greyling, verteenwoordiger van die nasionale regering se koöperatiewe bestuur en tradisionele sake, het vennootskappe tussen munisipaliteite en sakelui aangemoedig.
Sy het ook vir Louw van der Westhuizen (Hino George) en Brandon Woolley (Ramcom Trucks & Load Bodies CC) geloof vir die goeie gehalte brandweerwa wat hulle verskaf het.
Agter die stuur van die nuwe brandweerwa, sit Colan Sylvester (uitvoerende burgemeester). Voor, van links: Thomas Matthee (diekteur gemeenskapsdienste), Ewa Fortuin (raadslid), Johan Meintjies (brandweerhoof), Noluthando Mwati (onderburgemeester), Hendrik Ruiters (raadslid) en Murray-Wayne Konnie (hoof beskermingsdienste). Op die brandweerwa staan Mornay Thysse (Oudtshoorn-brandweerdienste) en Brandon Woolley (Ramcom Trucks & Load Bodies CC).
Hino George het die tender gekry om die vragmotor te voorsien, terwyl Ramcom die installasie van die brandbestydingstoerusting aan die vragmotor gedoen het.
ARTIKEL & FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'