OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee senior weermagoffisiere wat teregstaan op aanklagte van intimidasie en dat hulle die polisie in die uitvoering van hul pligte verhinder het, is Maandag weer 'n keer uitgestel nog voordat die verhoor kon begin.
Die twee beskuldigdes kol. Nkhabu Nthejane en kol. Xolanie Mankayi, albei voormalige bevelvoerders van die Oudtshoorn Infanterieskool, pleit onskuldig op al die aanklagte. Hul regsverteenwoordiger het die hof gister vir uitstel gevra hangende vertoë wat tot die direkter van openbare vervolging gerig is.
Kol. Nthejane was tydens die beweerde voorval bevelvoerder van die Infanterieskool.
Die verhoor was reeds in 'n gevorderde stadium toe die voorsittende beampte, streeklanddros Mark van Wyngaardt, in November verlede jaar gesterf en dit as nuwe saak op die hofrol geplaas is.
Die klagte volg op 'n voorval waartydens Nthejane en Manakayi na die polisiekantore in Baron van Reedestraat gegaan het, nadat die polisie vroeër die aand 'n groot aantal soldate by 'n kuierplek in Bongolethu in hegtenis geneem het, en op hulle vrylating aangedring. Adv. Michelle Weyers is die aanklaer.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak tot 14 September 2018 uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'