KAROO NUUS - Prins Albert en De Rust het vir die laaste week waterprobleme ondervind wat vermoedelik veroorsaak is deur die reën wat verlede week geval het.
Inwoners van Prins Albert het die week die Oudtshoorn Courant geskakel en ook hul misnoeë op Facebook uitgespreek, veral omdat die munisipaliteit nie moeite doen om met die gemeenskap te kommunikeer oor waarom die water bruin en onbruikbaar is nie en wat die munisipaliteit beplan rakende die situasie.
Marelize Vorster, 'n inwoner van Prins Albert sê die water is die laaste week bruin en kan nie vir huishoudelike take gebruik word nie.
"Ons kan dit net drink of daarmee kosmaak as ons die water kook. Dit is ook al wat die munisipaliteit aan ons gesê het, maar hulle het geen verdere kontak met die inwoners gemaak of ons gesê wat hulle doen om die probleem op te los nie."
In De Rust het inwoners ook die week met die water gesukkel.
In Januarie vanjaar is 'n waterprojek van stapel gestuur om inwoners van De Rust van water te voorsien.
Die damme wat water aan die dorp voorsien het was vol roet na brande wat in die omgewing gewoed het.
Die swaar reën wat die streek in Januarie gehad het, het veroorsaak dat die roet in die damme en riviere gespoel het.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit het verlede week gesê dat hulle watertrokke na De Rust en Blomnek gestuur het om water aan die inwoners te voorsien.
Hy het die week gesê: "Die watersituasie in De Rust is weer terug na normaal en geen water word tans aangery nie. Watermonsters word nou meer gereeld geneem om die gehalte van die water te monitor.
"Die publiek sal ingelig word indien monsterontledings aandui dat die gebruik van die water enige gesondheidsgevaar vir menslike gebruik mag inhou."
Inwoners van De Rust het ook die week bevestig dat die water skoon is, maar hulle is bewus daarvan dat die water weer troebel kan raak wanneer dit weer reën.
Anneleen Vorster, woordvoerder van die Prins Albert-munisipaliteit, het gesê, die water in Prins Albert is sedert Vrydag 3 November troebel.
“Die oorsaak van die troebel water is weens die groot donderstorm wat ‘n kragonderbreking veroorsaak het. Dit het veroorsaak dat ons nie ons boorgate kon aankry voor Vrydagmiddag nie.
"Die owerheid is boorgat afhanklik en as die boorgate nie werk nie, word die rouwater nie aangevul nie. Ons kry ook leiwater uit die Swartberge uit.
"Die vinnige neerslag Donderdag in die Swartberge het veroorsaak dat die natuurlike vloei van die rivier verander het en ons moes dit herlei.
"Daar was ook 'n bergbrand die Woensdag tot Vrydagoggend wat met die reën die water in die rivier verkleur het.”
Sy het verder gesê die owerheid het geen ander keuse gehad as om die watervoorraad aan te vul met die leiwater wat modderigheid in het nie.
Die water word egter steeds gechlorineer en die owerheid het dadelik die publiek ingelig dat die water vooraf gekook moet word vir huishoudelike gebruik.
“Die inwoners het nie nodig om skoon water aan te koop nie, maar het slegs nodig om enige water vir kosvoorbereiding en drink vooraf te kook.
"Die owerheid is besig om die watervlakke te stabiliseer en as ons genoegsame watervoorraad het, kan verdere filtrering en die spoel van die lyne weer plaasvind.
"Ons voorsien dat die probleem nog 'n week sal voortduur.”
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Karoo nuus'