OUDTSHOORN NUUS - In 'n poging om inligting oor waterbesparing op alle vlakke van die samelewing te versprei, het die Oudtshoorn-munisipaliteit 'n opvoedkundige veldtog begin wat spesifiek op skoolkinders gemik was.
Volgens Aurelia Oliphant, munisipale woordvoerder, was daar in die munisipale nuusbrief van Maart 2018 'n blokkiesraaisel vir kinders om hulle algemene kennis te toets en sommer ook hope pryse te wen.
Volgens haar was die groot wenner vir die blokkiesraaisel Jaydan Visagie.
"Hy het weggestap met die eerste prys, 'n Asus Vivo Stick TS10, ter waarde van R3 000. Sy prys is geborg deur Gt-Group, 'n plaaslike besigheid. Hy was in ekstase en kon nie ophou glimlag toe die geskenk aan hom oorhandig is nie."
Pryse is tydens 'n spesiale oorhandigingseremonie by die munisipale kantore oorhandig. Raadslid Raymond Wildschut het die pryse oorhandig.
Die tweede pryswenner was Nolesha May, wat R1 000 gewen het. Dit is geborg die kantoor van die uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester.
Die derde pryswenner was Heinrich Weygandt wat weggestap het met 'n R500 koopbewys van Checkers. Jacobus Schoeman, Mieke Schoeman en Meagan Theyse het elkeen 'n powerbank (vir die laai van selfone, tablette) gewen wat deur PNA geskenk is.
"Baie dankie aan al die deelnemers. Ons wil ook ons borge hartlik bedank vir hul bydrae tot ons waterbesparingsveldtog," het die munisipale bestuurder, Allen Paulse, gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'