OUDTSHOORN NUUS - 'n Gestremde man van Bongolethu op Oudtshoorn, wat met dwelms van sowat R300 000 in 'n Greyhound-passasiersbus betrap is, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof 15 jaar tronkstraf opgelê.
Douglas Matroos (42) het onskuldig gepleit en aangevoer dat dit nie sy sportsak was waarin die 5 000 Mandrax-tablette was nie. Hy het ook ontken dat hy die dwelms in Johannesburg gekoop het.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir 'n swaar vonnis gevra omdat "gewetenlose dwelmhandelaars dwelmverslaafdheid onder die jeug veroorsaak en so gemeenskappe verwoes".
"Dit is net die dwelmhandelaar wat ryk word," het Smith gesê.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het Matroos se weergawe verwerp. Hy was die enigste passasier op die bus en sy het bevind dat hy die dwelms op Oudtshoorn wou verkoop. Die tablette was in vyf plastieksakke in die sportsak versteek.
Sy het bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het en dat die polisie geen rede het om leuens in die hof te vertel nie.
Sy het ook gesê dat die beskuldigde, wat met behulp van krukke loop, nie agter sy gestremdheid kan skuil nie en die saak van die paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, aangehaal.
Pistorius is in 2016 tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis wat later deur die appèlhof meer as verdubbel is tot 15 jaar.
"Die hof moet 'n regverdige vonnis oplê, maar ook een wat 'n sterk boodskap stuur vir huidige en voornemende dwelmhandelaars.
"Dwelmhandelaars verdien groot geld terwyl diegene wat verslaaf is hulle wend tot diefstal, inbrake en ander misdaad tot nadeel van die gemeenskap. En so kom ons ekonomie nêrens," het die landdros gesê.
Vyf jaar van sy vonnis is voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'