OUDTSHOORN NUUS - Vyf mans van Dysselsdorp, wat tereggestaan het op twee aanklagte van menseroof en poging tot moord, is in die Oudtshoorn-streekhof onskuldig bevind en ontslaan.
Shane August (19), Walter Abrahams (21), Patrick Prins (29), Deshwill Lingerveld (35) en Tadeo Sibanda (27) is daarvan aangekla dat hulle op 26 Oktober 2020 twee mans, Lee-Marco Tamboer (26) en Adriaan Hector (26), in die kattebak van ‘n motor geforseer en later met ‘n spanhoutjie, ‘n graaf en bierbottels geslaan, met ‘n skroewedraaier gesteek en ook geskop en getrap het.
Tamboer, het vroeër getuig hoedat die vyf verdagtes vir hom en Hector buite ‘n dansplek in ‘n wit Volkswagen Golf gedwing het oor ‘n selfoon wat hulle gesoek het.
Hulle is daarna na ‘n plek bekend as die 'Piff' waar hulle aangerand is.
Daarna is hulle na die Dysselsdorp-sportstadion geneem waar hulle verder aangerand is.
Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat die staat nie daarin geslaag het om die vyf se skuld bo redelike twyfel te bewys nie en hulle vrygespreek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'