OUDTSHOORN NUUS - Vyf mans van Beaufort-Wes, wat aan aanranding om ernstig te beseer en huisbraak skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof elk tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Samora Hugo, Brandon de Bruin, Tenchin Riegers, Siyabulela Kokwe en Damian Sass is daaraan skuldig bevind dat hulle op 8 Julie 2017 by die huiswinkel van ‘n buitelander ingebreek het en sy vrou met 'n byl en skerp voorwerp gedreig en van R10 000 kontant, twee selfone, twee televisiestelle, sigarette en aartappels beroof het.
Streeklanddros Ntsoki Moni het bevind dat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die minimum vonnis van 15 jaar nie.
Sy het die twee aanklagte vir vonnis saamgeneem en verduidelik dat ’n eerste oortreder tot 19 jaar gevangenisstraf gevonnis kan word.
Sy het dus die vier jaar wat die beskuldigdes in aanhouding was daarvan afgetrek vir vonnisse van 15 jaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'