PRINS ALBERT NUUS - Regte bring verantwoordelikhede, nie net teen-oor jou gesin en jou gemeenskap nie, maar ook teenoor jouself.
Dit was die boodskap van verskeie sprekers Woensdag tydens 'n Vrouedagbyeenkoms in Prins Albert. Die geleentheid is deur DA-leiers van die dorp waaronder Linda Jaquet (onderburgemeester), Stoffel Botes (speaker), dr. Annelie Rabe (verteenwoordiger: Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit) en Mark Steyn gereël. Tagtig vroue het die geleentheid in die Jans Rautenbach Schouwburg bygewoon.
Daar is besin oor gesondheidskwessies, vroueregte en entrepreneurskap. "As vroue nie in 1956 'n optog vir hul regte na die Uniegebou in Pretoria gehou het nie, wonder ek waar was ons vandag," het Rabe gesê. "As daar een ding in die gemeenskap is wat mense met mekaar bind, is dit die krag van vroue."
Volgens Marie-Louise van Heerden, 'n maatskaplike werker van Badisa op Prins Albert, is vroue dikwels hul eie grootste eie vyand. "Wanneer haar man gewelddadig teenoor haar is, is sý dikwels die een wat die hofbevel teen hom verbreek deur hom weer in haar lewe toe te laat. Bly by jou besluit. Die wet is aan jou kant. Jý is die een wat keuses moet maak vir jou en jou kinders."
Rabe het gesê daar word nog te min klem gelê op entrepreneurskap in die gemeenskap. "Vroue gaan nooit vry wees, tensy hulle hul eie geld verdien nie. Ek het respek vir vroue wat self inspring. Wat hou sulke vroue aan die gang; waarom pak sommige iets aan, en ander doen niks?"
Die geheim, sê sy, is om te volhard en nie moed te verloor nie,
"Kyk na 'n langtermynonderneming, sorg dat jou standaard hoog is, moenie bang wees om hulp te vra nie en deel jou kennis met ander mense in die gemeenskap. Uiteindelik kan jy ook 'n werkgewer word."
ARTIKEL: MARLENE MALAN
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Karoo nuus'