"186 honde het deur ons hande gegaan," vertel Lee-Ann van Sittert. "Ons is werklik oorweldig deur mense se behoefte. Diere is gevoer en ontwurm. Mense wou weet wanneer ons weer terug kan kom."
Lee-Ann van Sittert en ’n vriendin het daardie dag met ’n groep vrywilligers aan die werk gespring in ’n poging om ’n daadwerklike verskil te maak aan die groot nood wat eienaars van troeteldiere in die gesig staar.
Van Sittert vertel dat sy sowat drie weke gelede besluit het om aan die werk te spring en iets aan die erge nood te doen. Sy is tans in die proses om ’n nie-winsgewende organisasie, Oudtshoorn Vrywilligers vir Diere te laat registreer. Volgens Van Sittert is registrasie nodig as sy personeel as inspekteurs wil laat oplei sodat hulle munisipale regulasies kan polisieer. "Ons is bewus van die munisipale skut en Oudtshoorn Dierewelsyn. Ons is bereid om met enigeen hande te vat en saam met hulle te werk. Ons weet ook van ’n ander organisasie wat om registrasie aansoek gedoen het maar afgekeur is."
Van Sittert beskryf die nood vir dieresorg as "’n tikkende tydbom" en waarsku dat mense in die nabye toekoms nog gruverhale in koerante sal sien oor honde-aanvalle en onversorgde diere.
"Ons gebruik privaat vervoer en vra nie ’n sent van enigeen nie," verduidelik Van Sittert. "Ons wil mense leer hoe om vir hul diere te sorg. Mense kan hul hulp aanbied of 2l-plastiek koeldrankbottels, roomysbakke of ou koerante aan ons skenk. Wurmstroop en hondekos is ook aan ons geskenk vir die Vrouedag-projek. Ons is geheel en al verantwoordbaar. As mense ’n skenking aan ons maak kan ons hulle presies vertel wat ons daarmee gedoen het."
Sover hulle gaan is hulle ook besig om rekord te hou van al die diere. "Ons wil presies weet waar diere is wat gesteriliseer moet word. Ons wil weet hoeveel troeteldiere in die gemeenskap is en wie die verantwoordelike persone is."
Van Sittert nooi vrywilligers uit om hand by te sit. Sy kan gekontak word by 083 334 0172 of 072 873 5506.
Honderde troeteldiere is gevoer en ontwurm tydens 'n Vrouedag-projek in Riemvasmaak. Foto verskaf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'