OUDTSHOORN NUUS - ‘n Vrou van Bongolethu, wat haar man met kookwater verbrand het, is in die Oudtshoorn-streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê en vir drie jaar onder huisarres geplaas.
Mavis Douse (50) is deur streeklanddros, Sylvi Mandla, van aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind nadat sy ‘n ketel kookwater op haar man, Thawetse Cassius Douse, uitgegooi het.
In haar pleitverduideliking sê sy dat sy en haar man op 6 Desember 2020 in ‘n woordewisseling oor sy ontrouheid betrokke was. Volgens haar het hy hom nie aan haar gesteur nie en net gesê dat dit sy reg is om ook saam met ander vroue te verkeer.
Sy het vernederd gevoel en kwaad geword waarna sy 'n ketel kookwater in die kombuis gevat het en dit op haar man se skoot uitgegooi het met die doel om hom te beseer.
Sy het nie gedink dat dit hom so ernstig sou verbrand nie en erken dat sy sterk onder die invloed van alkohol was, maar steeds geweet het wat sy doen verkeerd is.
Die landdros het in ag geneem dat sy skuldig gepleit het en berou toon, maar dat sy aan ‘n ernstige misdaad skuldig bevind is waarvoor sy gestraf moet word.
Sy is ingevolge Art 276 (1) (h) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat algeheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is asook drie jaar korrektiewe toesig wat behels dat sy 24 uur per dag, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes, onder huisarres sal wees.
Sy moet haar ook weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms en is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'