OUDTSHOORN NUUS - Die 28-jarige Stephany Stoffels, van Oudtshoorn, is verlede Woensdag oorlede na haar meer as twee jaar lange stryd teen nierversaking.
Stephany se pa, Hans, is boonop in die Oudtshoorn-hospitaal opgeneem nadat hy eers met nierpypinfeksie en toe Covid-19 gediagnoseer is.
Die Oudtshoorn Courant het verlede jaar 'n berig oor Stephany gedoen na sy mense van die belangrikheid van orgaanskenking wou bewusmaak.
Sy sou haar pa se een nier gekry het, maar hy moes eers fisies gereed wees voor hy kon skenk. "Ek wil my storie met almal deel. Dit is vir my belangrik dat mense moet verstaan waaroor nierversaking gaan en waarmee persone wat daarmee gediagnoseer is moet saamleef," het Stephany verlede jaar aan die Oudtshoorn Courant gesê.
Natalie Stoffels, Stephany se suster, sê hulle familie gaan deur 'n baie moeilike tyd.
"Dit het beter gegaan met my pa, maar hy het 'n terugslag beleef na hy gehoor het Stef het ons verlaat. Sy het verskriklik hard baklei om aan die lewe te bly. Sy het groot drome vir haarself gehad, was lief vir kinders en wou bitter graag self 'n ma wees. Sy het self haar dialise administreer en ons as familie het gehelp dat al haar medikasie by haar is."
Bettie en Natalie Stoffels, Stephany se ma en suster.
Natalie sê haar suster is egter op 24 Julie hospitaal toe omdat sy baie siek was.
"Hulle het haar galblaas verwyder en 'n paar dae daarna het hulle vir haar 'n tweede kateter ingesit sodat sy bloeddialise kan kry. Ons vermoed dat Stef se liggaam nie sterk genoeg was vir die twee dialises nie. Sy het stuiptrekkings gekry as gevolg van dit."
Volgens haar het personeel van die George-hospitaal hulle op 7 Augustus gebel sodat hulle haar kan groet.
"Stef kon nie praat nie, maar deur God se genade het sy vir my en my ma oor die telefoon net 'Bye' gesê. Dit was bitter swaar om te dink dat ons op so 'n manier moet groet. Sy is daardie Sondag egter ontslaan. Haar lyf was vol pleisters van al die operasies wat sy die laaste tyd gehad het. Om een of ander rede was sy blind ook, sy kon niks voor haar sien nie. Ek het haar gewas en haar vasgehou terwyl sy slaap. Verlede Woensdag het sy weer stuiptrekkings gekry en sy het onder my hande gesterf. Daar was niks wat ons kon doen nie."
Natalie sê dit is ook vir hulle baie moeilik dat hul pa haar nie kon groet nie.
"Ons het almal die geleentheid gehad, maar hy is op 5 Augustus in die hospitaal opgeneem. Hy kon dus nooit weer vir Stef sien nie. Die Stoffels-familie hoop nou dat Hans voor Stephany se begrafnis die naweek ontslaan sal word. Sy word Saterdag begrawe. Weens die Covid-19-pandemie sal daar geen kerkdiens wees nie, maar sal daar 'n diens by hul huis in Abrahamstraat om 10:00. Slegs 50 mense sal die diens kan bywoon.
Vorige artikel: Nuwe lewe met Pa Hans se nier
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'