OUDTSHOORN NUUS - 'n Ma is dood in 'n brand, maar 'n helper kon haar kind betyds red.
Sandra 'Sandy' Marnewick, 'n ma van Bokkraal in Dysselsdorp, is verlede Saterdagaand saam met haar kind, Amara, in hulle opslaanhut deur vlamme vasgekeer.
'n Ooggetuie, Petrus Meyer, wat in dieselfde omgewing woon, kon die kind red. Hy vertel dat hy die betrokke aand omstreeks 21:00 harde gille gehoor het en hom gehaas het om ondersoek in te stel. Hy het op die brandende hut afgekom en besef daar is mense binne vasgekeer.
"Dit was rook en vlamme oral. Sandy het paniekbevange aan die plate gestamp terwyl ek gehoor het hoe Amara huil. Ek het uit desperaatheid 'n stuk plank van een van die vensterstrukture met my hande afgeruk om hulle uit te kry. Ek het toe vir Sandy gesê sy moet solank vir Amara deur die venster aangee. My suster het toe met Amara na 'n waterkraan toe gehardloop om haar af te koel. Ek het Sandy ook deur die venster probeer help, maar ek kon nie daarin slaag nie. Ek het haar aan haar arms probeer uittrek, maar haar arms was reeds so erg deur die brand beskadig dat ek dit nie kon regkry nie."
Meyer het gesê die vlamme was toe so erg dat hy uit vrees vir sy eie lewe moes terugstaan en hulpeloos moes kyk hoe die gebou met die vrou steeds binne, brand. "Saterdagaand se nagmerrietoneel sal my altyd bybly," het 'n emosionele Meyer gesê.
Sandra 'Sandy' Marnewick. Foto verskaf
Dis in hierdie stadium nie bekend hoe die brand ontstaan het nie. Behalwe vir 'n paar skrapies en 'n ligte brandwond aan sy hand is Meyer onge-skonde.
Volgens voorlopige inligting is Amara in die George-hospitaal opgeneem en is 'n noodoperasie uitgevoer. Amara is 'n gr. 1-leerder verbonde aan Dysselsdorp Primêr.
Dit is nie die eerste keer dat dié gesin se lewe deur die trauma van 'n brand moes gaan nie. Sandy het haar ma, broer en ouma in 2004 ook aan 'n vlammedood afgestaan.
Volgens 'n Facebook-inskrywing is 'n kranslegging gister (Woensdag) vir die ontslape Sandy gehou.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'