OUDTSHOORN NUUS - 'n 37-jarige ma van twee, van Riemvas-maak in De Rust, se lewe het Saterdag 9 September drasties verander toe haar saamleefmaat haar twee keer met 'n mes gesteek het.
Dieselfde man het haar huis met al haar besittings in vlamme laat opgaan.
Maudine Hendricks het Dinsdag by haar ma se huis aan Oudtshoorn Courant vertel dat die insident weens verhoudingsprobleme plaasgevind het.
Die man, wat tans in hegtenis is, het haar by haar huis in die linkerkant van haar nek gesteek en ook in haar bors, bo haar hart. Sy het gaan hulp soek waarna hy die gasbottel in haar huis oopgedraai, die pyp afgeknip en 'n vuurhoutjie ingegooi het. Sy was op daardie stadium nie by die huis nie, maar die polisie het haar vertel wat hy gedoen het.
"Ek bly al nege jaar in daai huis - alles wat ek gehad het was daar binne en dit is nou alles weg. Toe die brandweer daar aankom was daar niks oor nie. Alles is tot niet! Niks kon gered word nie," het sy hartseer vertel. Haar twee kinders, waarvan een gestremd is, het nie eens skoene oor nie en het net die klere waarmee hulle Saterdag uit die huis is.
Hendricks het haar kop geskud en kon nie verder praat nie.
Siena van Welling, Hendricks se bejaarde ma, het in trane uitgebars. "Dit is so hartseer. My kind het so hard gewerk vir alles wat sy gehad het. Meneer, ek kan nie eens slaap nie," het sy vertel.
"Ek voel ek wil iets oorkom. My arme kinders - daar is niks oor nie. Ons het 'n lelike ding oorgekom. Dit voel asof die dood by my huis ingetree het. Die kinders kan nie eers skool toe gaan nie," het Van Welling gehuil. Sy het bygevoeg dat die familie wel alles waardeer wat die gemeenskap tot dusver vir hulle gedoen het, al was dit selfs net 'n drukkie.
Die polisie reageer
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het 'n 36-jarige man reeds Dinsdag in die hof verskyn na beweerde insidente in De Rust Saterdag. Die saak is tot 25 Oktober uitgestel omdat die beskuldigde borgtog laat vaar het.
Spies het gesê dat daar beweer word dat 'n man en vrou omstreeks 21:30 Saterdagaand in 'n woordewisseling betrokke was. "Die man het die vrou met 'n bottel geslaan en daarna gesteek. Die slagoffer se woning is ook afgebrand."
Volgens Spies is die insidente verwant aan gesinsgeweld en staar die verdagte klagtes van aanranding met die opset om ernstige liggaamlike beserings aan te doen en brandstigting in die gesig. Die ondersoek duur voort.
Inwoners vra vir vinniger reaksie
Op sosiale media het inwoners te velde getrek omdat die brandweer na bewering te lank geneem het om by die brand uit te kom. Juan-Ray April, 'n inwoner wat op die toneel was, het gesê dat die brandweer eers 'n uur na hul ontbied is by die toneel opgedaag het. "Elke keer as hier soortgelyke gevalle is dan kom die brandweer laat. Ons mense kan doodgaan," het hy gesê.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit kan die munisipaliteit wel bevestig dat rampbestuur, volgens hul brandverslag, om 22:08 die oproep ontvang het. "Die span is om 22:21 na De Rust en dit het hulle 21 minute geneem om na die toneel te gaan."
Volgens haar is De Rust en Volmoed gekeur vir stasies benodig soos per regulasies, en dit is ook aangedui as 'n prioriteit in die geïntegreerde ontwikkelingsplan.
"Die brandweerpersoneel in Dysselsdorp werk nie 24 uur soos in Oudtshoorn nie. Hulle werk wel skofte en dan is hulle op bystand vir enige noodgevalle."
Siena van Welling (links) en haar dogter, Maudine Hendricks, wat twee keer deur haar saamleefmaat gesteek is, voordat hy ook haar huis in Riemvasmaak, De Rust aan die brand gesteek het. Foto's: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’