CALITZDORP NUUS - 'n Vrou wat haar saamleefmaat met ‘n groentemes doodgesteek het, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof 10 jaar tronkstraf opgelê nadat sy aan moord skuldig bevind is.
Elizabeth Baartman (55), ouma van twee kleinkinders, het erken dat sy op 17 Oktober 2020 vir Henry Pietersen een keer in die bors gesteek het. Sy het gepleit omdat sy nie bedoel het om hom dood te steek nie.
Sy het onder kruisverhoor kleigetrap oor wat presies die betrokke dag gebeur het en verskil van die weergawe wat sy aan haar regsverteenwoordiger oorgedra het.
Sy het in haar getuienis in die hof getuig dat sy in haar slaapkamer op ‘n bed gelê het toe die oorledene by die huis aangekom het, maar onder kruisverhoor getuig dat sy in die kombuis besig was om aartappels te skil.
Sy het ontken dat sy die oorledene ook agter sy rug en arm gesteek het en dat dit ou wonde was.
Dr. Christa Hattingh, wat die nadoodse ondersoek gedoen het, het egter getuig dat die wonde almal vars was.
Baartman se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof versoek om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar omdat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede daarvoor bestaan.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof egter vir ‘n lang vonnis gevra omdat Baartman aan ‘n ernstige misdaad skuldig bevind is wat te dikwels in die distrik plaasvind en sy geen berou toon nie.
Haar lewe was nie in gevaar toe sy Pietersen gesteek het nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het met vonnisoplegging gesê die howe beskerm vroue teen mishandeling, maar vergeet te dikwels hoeveel mans deur vroue mishandel word.
“Daar is ongelukkig nie statistieke beskikbaar nie, maar mans vind dit moeilik om sake teen hul metgeselle te maak en neem dan die reg in eie hande.”
Volgens haar maak persone wat nie verantwoordelikheid neem vir hul optrede nie, dit moeilik vir die howe om hulle te vonnis. Vroue voer aan dat hulle uit selfverdediging opgetree het en kom dan lig daarvan af.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'