Update
DYSSELSDORP NUUS - Die saak teen 'n vrou wat van moord op haar pasgebore seuntjie aangekla word, is Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof vir die slotargumente en uitspraak tot later die maand uitgestel.
Die staat voer aan dat Haroldene Korkee (42) op 15 Oktober 2016 na erge pyne in 'n toilet gekraam en die baba glo versmoor het.
Korkee pleit onskuldig en sê dat sy nie geweet het van haar vierde swangerskap nie omdat dit glo "anders" was.
Sabina Mei, het getuig dat sy die betrokke dag "uit nuuskierigheid" die huis van Korkee binne is om ook te gaan kyk wat aangaan nadat sy gehoor het van 'n vrou wat geboorte geskenk het. Sy het getuig dat sy Korkee, wat sy nie geken het nie, op die toilet sien sit.
"Ek het haar gevra om eenkant toe te skuif om te sien of die baba nog leef en of ek kan help. Die baba het egter stil in die toilet gelê."
Jenifer Jaftha, 'n paramedikus, het getuig dat sy ook vir Korkee op die toilet aangetref het.
Sy het haar onder die een arm gevat om haar tot by 'n bed te help en ook die baba in die toilet sien lê.
Korkee se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het dit aan Mei en Jaftha gestel dat hul getuienis in die hof verskil van hul polisieverklarings. Korkee het Woensdag onder kruisverhoor getuig dat Mei en Jaftha se getuienis nie korrek is nie.
Volgens haar wou niemand haar die betrokke dag help nie. Sy het ook getuig dat sy nie kliniek toe gegaan het nie omdat sy nie geweet het sy is swanger nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het dit aan Korkee gestel dat sy dolus eventualis opgetree het deur te weier om van die toilet op te staan toe vroue haar wou help.
Korkee het op vrae van die landdros geantwoord, dat sy nie die gewone "morning sickness" ervaar het soos met haar eerste drie kinders nie.
Sy het die keer pyne in haar lae rug ervaar, maar nie dokter toe gegaan nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het na Korkee se getuienis die staat en die verdediging gevra om hul betoë op skrif te stel en dit aan haar te besorg voor 24 Februarie wanneer sy uitspraak sal lewer.
Vorige artikel: Vrou in hof vir baba se dood
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'