OUDTSHORN NUUS - Ben Vrey Snr, die sakeman wat in 2012 op vier klagtes van seksuele teistering in hegtenis geneem is, is Maandag op drie van die klagtes skuldig bevind.
Drie van die klaagsters was tydens die voorvalle kelnerinne wat in sy restaurant gewerk het en die vierde is 'n meisie wat toe 13 jaar oud was.
Die drie klagtes waaraan landdros Daniel Boks Vrey skuldig bevind het handel oor die meisies wat vir Vrey in die restaurant gewerk het.
Volgens die klagstaat het die kelnerinne gesê dat hy ondermeer aan hulle boude en vrouedele gevat het en ook sy tong in een kelnerin se mond gedruk het.
Vrey is vrygespreek op die klag rakende die 13-jarige meisie.
Boks sal op 19 November die vonnisoplegging doen.
Adv. Alfred Schmidt het in opdrag van Vrey se prokureur, mnr. Louis Oosthuizen, opgetree.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'