OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep inwoners van drie informele nedersettings in Oudtshoorn het vanoggend aan 'n wettige, vreedsame optog deelgeneem.
Hulle het na die munisipale depot in Dassieweg gestap om 'n memorandum aan munisipale amptenare te oorhandig.
Die inwoners van GG-kamp, Kanale en Black Goint eis behuising en werksgeleenthede. Hulle het ook gevra dat daar meer aandag aan die skoonmaak van die informele nedersettings gegee word.
Shehaam Sims (behuising), Thomas Matthee (gemeenskapsdienste), Reginald Smit (koöperatiewe dienste) en Allen Paulse (munisipale bestuurder) het die inwoners toegespreek.
Volgens Sims was sy gisteraand met Asla in 'n gesprek gewees oor 'n behuisingsprojek in GG-kamp. Sy het gesê dat sy die planne en ander besprekings met Asla moet finaliseer en hoop om op 5 November met die voorstelle van Asla na die inwoners te kom sodat sy dit met hulle kan bespreek.
Volgens haar, behoort hulle vir ongeveer 400 mense huise te kan gee.
Paulse het gesê dat daar ook besprekings is oor werksgeleenthede vir inwoners, maar dat daar slegs 49 mense per kwartaal aan so 'n projek gaan kan werk.
Volgens hom is die daar nog niks gefinaliseer nie en weet hy ook nie wanneer die projek gaan begin nie. Matthee het gesê dat die projek die skoonmaak van woonbuurte insluit.
Mlandeli Nyuka, die sameroeper van die optog, het gesê hy beskou die geleentheid van vandag as geslaag.
"Ons kon antwoorde by amptenare kry waarvoor ons baie dankbaar is. Ek is veral trots op die feit dat ons in ons doel geslaag het sonder enige geweld en bande wat gebrand is."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'