LADISMITH NUUS - Die deure van die splinternuwe, moderne primêre gesondheidsorgkliniek in Ladismith, wat reeds op 5 Julie vanjaar amptelik oorhandig is, is steeds gesluit.
Dit blyk ook dat daar nie antwoorde is oor presies wanneer die kliniek pasiënte sal begin bedien nie.
Dié kliniek is vroeër vanjaar tydens 'n spesiale geleentheid deur die departement van infrastruktuur aan die departement van gesondheid in die Wes-Kaap oorhandig. Pasiënte wat kliniekfasiliteite benodig moet egter steeds na die Alan Blyth-hospitaal gaan omdat die primêre gesondheidsorgkliniek tans daar geleë is. Hier is egter 'n reusetekort aan spasie vir pasiënte.
Onkruid groei ruig rondom die nuwe, ongebruikte gebou.
Die Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, prof. Nomafrench Mbombo, het Dinsdag 30 April 'n besoek aan die kliniek gelewer en het gesê dat die nuwe fasiliteit groter sal wees en meer sentraal geleë, en uitreikpersoneel sal kan akkommodeer. Daar is verduidelik dat die kliniek deur 'n operasionele bestuurder, 'n kliniese verpleegkundige en drie professionele verpleegsters behartig sal word. Ander mediese dienste soos die van tandartse, oogkundiges en fisioterapeute sal ook hiervandaan bedryf word.
Oudtshoorn Courant het die week 'n navraag aan die Wes-Kaapse departement van gesondheid gestuur rakende die opening en gebruik van die nuwe fasiliteit.
Nadia Ferreira, woordvoerder van die gesondheidsdepartement het die navraag na die departement van infrastruktuur verwys.
Celeste Nell, woordvoerder, Wes-Kaapse departement van infrastruktuur het gesê dat daar nog volgens standaard prosedure na onopsigtelike of onverwagse gebreke omgesien word en dit dan aan die departement van gesondheid oorhandig sal word.
"Ons kan nie names die gesondheidsdepartement antwoord oor wanneer die gebou in gebruik geneem sal word nie," het sy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’