KLEIN KAROO NUUS - Die inhoud van 'n brief wat deur 'n prokureur aan die media geskryf is waarin daarop gewys word dat Oppiespoor glo in drie maande bykans R5 miljoen in verlore pensioengeld vir mense opgespoor het, het deur ten minste twee koerante vrae ontlok.
Dieselfde brief word glo tans deur die Oppiespoor-aksiegroep as bemarkingsmateriaal gebruik om aan voornemende kliënte te "bewys" dat Oppiespoor resultate lewer.
Oppiespoor is 'n organisasie waaroor daar sedert 2016 reeds verskeie kere deur verskeie koerante berig is. Hulle spreek groepe mense toe en onderneem dan om teen betaling uit te vind of mense op "pensioengeld" geregtig is.
Hulle het twee weke gelede groot groepe mense op Worcester toegespreek en by dieselfde geleentheid die mense gewaarsku om nie met 'n joernalis wat daar opgedaag het te praat nie. Sedert die Oudtshoorn Courant in 2016 oor die groep berig het, het die koerant deurentyd gevra vir bewyse van enige uitbetaling aan begunstigdes.
Met daardie beriggewing is daar bewys dat Oppiespoor geen mandaat, soos wat hulle beweer het, van Transnet gehad het om pensioene namens mense te laat uitbetaal nie.
Die versoek vir bewyse van uitbetalings was ook verlede jaar met beriggewing in George en Oudtshoorn herhaal. Die burgemeester van die Matzikama-munisipalitiet het mense in 2017 gewaarsku om nie geld aan Oppiespoor te betaal nie.
Prokureursbrief
Die Oudtshoorn Courant het in Meimaand 'n brief van Johan Wagener-prokureurs ontvang waarin die media daarop gewys word dat Wagener in besit is van 'n lys van begunstigdes wat deur Oppiespoor se tussentrede, uitbetalings ontvang het.
Volgens die brief het verskeie mense 'n totaal van R4 943 903.43 in minder as drie maande, vanaf 15 Januarie tot 5 Maart 2019 ontvang. Die Oudtshoorn Courant het op grond van die brief 'n berig geplaas waarin die inhoud van die brief bekendgemaak is.
Een van die Oppiespoor vergaderings in die Bethesda kerk in Worcester. Foto: JP Myburg
Die presiese inhoud van die lys is egter bevraagteken nadat 'n persoon teenoor die Oudtshoorn Courant erken het dat Oppiespoor geen aandeel in die uitbetaling van sy geld gehad het nie.
Die persoon het in April saam met 'n werknemer van Oppiespoor, Alec, die Oudtshoorn Courant besoek en 'n beëdigde verklaring getoon waarin hy verklaar dat Oppiespoor 'n bedrag van R60 000 vir hom opgespoor het. By navraag aan die werkgewer en 'n arbeidspraktisyn het dit egter aan die lig gekom dat die man se geld uit 'n voorsieningsfonds volgens normale kanale uitbetaal is en nie deur die tussentrede van Oppiespoor nie.
Die man het op 8 Julie in 'n telefoongesprek gesê Alec, wat saam met hom was, het hom polisiestasie toe geneem om die verklaring af te lê omdat "die koerante 'n bewys wil hê van uitbetalings".
Die Oudtshoorn Courant het Alec hieroor gebel, maar hy het nie gereageer op 'n uitnodiging om die aangeleentheid te bespreek nie. Op grond van hierdie inligting het die Oudtshoorn Courant navrae aan Oppiespoor se direkteur, Gert Mostert, en Johan Wagener gestuur om te bevestig of die lys slegs name en bedrae van begunstigdes bevat en of daar ander inligting is wat bewys dat Oppiespoor inderdaad die bykans R5 miljoen opgespoor het.
Geen reaksie is op verskeie e-posse en 'n faks van Oppispoor ontvang nie.
Wagener het telefonies gesê hy gaan nie reageer nie en in reaksie op 'n e-pos met die volgende reageer:
"U gaan ook nie reaksie kry nie. Skrywer en sy kliënt is nie daar om sensasie te skep nie. U moet maar self besluit wat u wil doen."
Die gelamineerde afskrif van die brief wat Oppiespoor aan mense in Worcester gegee het.
Vrae deur media op Worcester
Toe Oppiespoor op 13 Augustus hulle opwagting in Worcester gemaak het, het besorgde inwoners die plaaslike koerant, die Worcester Standard, gekontak. Volgens die joernalis het Oppiespoor gelamineerde afskrifte van Wagener se brief aan die mense uitgedeel om te bewys dat hulle resultate toon. Gert Mostert, het glo die verrigtinge gestaak toe die joernalis instap en die mense gewaarsku om nie die koerante te glo as hulle sê Oppiespoor is 'n "verneukspul" nie.
Worcester Standard se pogings om die inhoud van die lys waarna in Wagener se brief verwys word, te bekom, was ook onsuksesvol. Die joernalis, JP Myburg, het na afloop van Oppiespoor se besoek twee berigte op 15 Augustus in die Worcester Standard gepubliseer waarin die werkswyse van Oppiespoor weereens bevraagteken word.
Dit blyk ook dat Oppiespoor se tariewe intussen verhoog is. Waar hulle aanvanklik R200 per persoon gevra het, het hulle in Worcester R250 gevra om 'n nommer te bel en te bevestig of daar enige geld vir die persoon is. Indien mense na die tyd weer navraag oor vordering doen moet hulle tussen R70 en R90 opdok.
Lees 'n vorige artikel: Oppiespoor stel wanpersepsie reg
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'