Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn munisipaliteit het tydens 'n raadsvergadering Vrydag afgesien van die moontlike herbenaming van Voortrekkerweg na Nelson Mandela Boulevard.
Dit volg na 'n publieke deelnameproses waarin inwoners gevra is om kommentaar te lewer oor die potensiele herbenaming om saam te val met die 100ste verjaardagviering van die ontslape president, Nelson Mandela op 18 Julie 2018.
Volgens 'n verslag van die waarnemende direkteur strategiese dienste, me S Sims, wat tydens Vrydag se vergadering ter tafel gelê is, is 94 skriftelike voorleggings deur die raad ontvang waarin 'n totaal van 366 individue hul menings lug.
Volgens die verslag is daar 'n oorweldigende meerderheid (98,6%) wat nie ten gunste is van die herbenaming van die Voortrekkerweg nie en 99,7% wat teen die herbenaming na Nelson Mandela Boulevard gekant is.
Die grootste rede hiervoor is omdat dit 'n te duur proses sal wees, nie net vir die munispaliteit nie maar ook vir besighede en privaat wonings in Voortrekkerweg.
Aanbevelings is dat die geld liefs aangewend kan word vir die verbetering van dienste in die algemeen soos byvoorbeeld die bou van huise, instandhouding van begraafplase, herstel van paaie, die bou van 'n dam, en vele meer.
Die oorgrote meerderheid staan sensitief en respekvol teenoor die ontslape president.
Volgens die munisipale betuurder, Allen Paulse, behoort Voortrekkerweg aan die provinsiale regering en is goedkeuring van die naamsverandering van 'n provinsiale pad nog nie van die Wetgewer ontvang nie.
Die voorstel om af te sien van die herbenaming is ingedien deur rdl Hendrik Ruiters, en eenparig deur die raad aanvaar.
Lees 'n vorige artikel: Voortrekkerweg dalk Nelson Mandela Boulevard
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'