OUDTSHOORN NUUS - ‘n Voormalige adjunkbalju van Oudtshoorn, wat aan bedrog en vervalsing skuldig bevind is, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof ‘n opgeskorte vonnis van 12 maande opgelê en ook gelas om slagoffers te vergoed.
Luwayne Wagenaar is skuldig bevind op sewe aanklagte van bedrog en drie van vervalsing onder eed.
Landdros Thomas Claassen het met die vonnisoplegging van Wagenaar gesê dat hy op onwettige wyse homself verryk het deur verkeersboetes vir homself te neem.
Hy het hom gewaarsku dat die tronkdeure vir hom oopstaan indien hy weer aan bedrog skuldig bevind word.
Volgens die landdros is Wagenaar ‘n gesiene inwoner van die dorp wat ‘n gesiene werk gehad het en direkte gevangenisstraf nie van pas sal wees nie.
Die hof het in ag geneem dat hy tog teen die einde van die saak berou getoon het.
Wagenaar se vonnis van 12 maande gevangenisstraf is in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort en hy is ook gelas om voor die einde van Oktober ‘n bedrag van R1 360 aan die klaers terug te betaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’