TUINROETE NUUS - Die vonnisoplegging van drie mans van Thembalethu, George, wat op drie aanklagte van die onwettige jag van beskermde wild met honde skuldig bevind is, is verlede Donderdag nog 'n keer uitgestel.
Lees 'n verwante artikel: Skuldig aan onwettige jag
Dié keer vir 'n beslissing oor wat om met die drie honde waarmee hulle gejag het te doen.
Colleen Smith van Oudtshoorn Dogs in Need, het getuig dat die honde tans by die Tuinroete-DBV aangehou word in omstandighede wat nie goed is vir die honde nie.
Volgens haar moet die honde meer ruimte gegee word en kan rondhardloop en nie in klein hokke aangehou word nie.
"Dit gaan vir my oor wat is die beste vir die honde," het sy getuig en bygevoeg dat sy reeds mense in Kaapstad en Hermanus gevind het wat die honde wil aanneem indien die hof so beslis.
Landdros Lorraine Samuels het gelas dat die honde teruggebring word na Oudtshoorn en in Smith se sorg gelaat word tot die afhandeling van die saak.
Sias Mazukisi (33), sy neef, Sparks Retyu (34) en 'n vriend, Fundisile Maseti (38) is skuldig bevind aan die jag van beskermde diere sonder 'n permit en buite die jagseisoen, die jag van die diere deur gebruik te maak van honde sonder 'n permit en die wederregtelike en onwettige besit van karkasse van beskermde wilde diere sonder 'n permit of die nodige dokumente.
Die drie is op Sondag 30 April vanjaar tydens 'n padblokkade van die polisie op De Rust in hegtenis geneem.
Die diere is met die honde wat deur iemand op Beaufort-Wes opgelei is, gejag en gevang. Mazukisi, Retyu en Maseti het op 27 April vanaf Thembalethu na Beaufort-Wes gereis om die honde te gaan haal en is daar geleer hoe om met die honde te werk en met hulle te jag.
Die regsverteenwoordigers van die drie mans, Francois van Zyl (vir Mazukisi en Retyu) en Vaughn Shone (vir Maseti) het die hof vir korrektiewe toesig gevra terwyl die staatsaanklaer, Vandana Premchand, vir opgeskorte vonnisse en boetes vra, maar het toegegee dat korrektiewe toesig 'n opsie is.
Van Zyl het in sy voorvonnisbetoog gesê die mans en veral Mazukisi het reeds baie verloor deurdat die polisie op sy motor en honde beslag gelê het.
"Sou die mans permitte gehad het en die regte tyd gaan jag het sou hulle niks verkeerd gedoen het nie," het Van Zyl gesê. Volgens hom is die honde goed opgelei en in 'n baie goeie toestand.
Lees 'n vorige artikel: 3 Vas na onwettige jag van wild
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'