OUDTSHOORN NUUS - 'n Man wat geruime tyd volstruisvere gesteel en op die swartmark verkoop het, het hom uiteindelik teen die gereg vasgeloop.
Pieter Gideon Marais (32) van Oudtshoorn is op 6 Februarie vanjaar gearresteer toe hy met volstruisvere in sy besit op die plaas Sandfontein in die Albertinia-omgewing betrap is.
Drie klagtes van verediefstal is teen hom gelê. Klagte 1 behels diefstal van die volstruisvere ter waarde van R58 572, maar die waarde van klagte 2 en 3 is onbekend.
Hy het 'n pleitooreenkoms aangegaan en skuldig gepleit op al die aanklagte teen hom.
Hy is onlangs gevonnis tot twee jaar op elke klag, in geheel opgeskort vir vyf jaar. Hy moet ook R40 000 in kompensasie aan die klaer betaal, en al die uitstaande rekeninge vir sy dienste aan die boer afskryf.
"Marais het op die dag van sy arrestasie die klaer se plaas sonder toestemming betree en die plaasvoorman, wat vooraf ingelig is, het hom met die vere agterop sy bakkie betrap," sê ao. Fasie de Kock, operasionele bevelvoerder van Oudtshoorn-veediefstaleenheid.
Volgens Salo Poggenpoel, eienaar van die plaas, het Marais in 2017 by hom begin werk. "Ek het van sy dienste gebruik gemaak om vere te pluk, die volstruise te ent en bloed te trek.
"Terwyl ons op 'n keer besig was om slagvoëls vir die abattoir te laai het ek gesien van die volstruise se vere is weg." Omdat net 'n paar vere op 'n keer van elke volstruis gepluk is, het hy nie onmiddellik onraad gemerk nie.
Hy het foto's van die vere se hergroei geneem en die persoon by die Mosstrich-abattoir kon aan die hand daarvan bepaal wanneer die vermiste vere gepluk is. Poggenpoel kon die datums in sy rekordhouding naspeur en het so agtergekom hy word besteel.
"Marais het ruim by my gevat," sê hy. Die totale waarde van slagvolstruisvere beloop naastenby R450 000, terwyl die broeivoëlvere wat gesteel is, sowat R300 000 beloop.
Volgens De Kock het Marais glo gereeld wanneer hy in opdrag van 'n kliënt vere pluk, 'n persentasie daarvan vir homself gehou. Hy het boonop mense betaal om in die nag vir hom vere te pluk. "Ons het 'n verklaring afgeneem van 'n vrou van Oudtshoorn wat van die vere op die swartmark by hom gekoop het."
Volgens De Kock neem verediefstal die afgelope ruk onrusbarend toe. "Omdat die ekonomie so sleg is, kry ons geweldig baie klagtes van vere wat onwettig gepluk word." Dis moeilik om te bepaal hoeveel gevalle voorkom, maar in Maart en April is ten minste ses voorvalle by verskillende plaaslike polisiestasies in die Suid-Kaap aangemeld.
Lewies Potgieter, 'n volstruisboer van Rooiheuwels buite Oudtshoorn, het sedert Desember verlede jaar tot op hede R30 000 se skade gely weens verediefstal wat in die nag plaasvind.
"Die volstruise word met 'n stok teen die nek geslaan sodat hulle bewusteloos is en die vere gepluk kan word. As die volstruis te hard geslaan word, kom hy nie weer by nie. Dikwels word ook groen vere van jong voëls van vier, vyf maande gepluk en van hierdie voëls vrek weens skok en ontbering."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'