Update
OUDTSHOORN NUUS - Die 73-jarige Ansorina Smit, wat verlede Vrydag deur 'n ligte vragmotor getref is, was teen gister steeds in die Mediclinic George.
Smit is Vrydag met veelvuldige beserings vanaf Oudtshoorn na George oorgeplaas.
Sy en 'n 79-jarige vriendin het Vrydagoggend, soos gewoonlik, vanaf Klapperbosrand gaan stap.
Volgens die vriendin het hulle by Voortrekkerweg gewag vir verkeer, maar Smit het haar misgis met 'n aankomende voertuig se spoed en vinnig oor die pad probeer stap.
Die bestuurder van die ligte vragmotor het probeer uitswaai, maar haar getref.
Volgens haar seun, Frans Smit, is verskeie operasies sedert Vrydag op haar uitgevoer. Sy moes twee operasies aan haar linkerenkel, wat 'n ernstige fraktuur gehad het, ondergaan.
Haar blaas het ook met die slag gebars en moes met 'n operasie herstel word. Sy het ook baie bloed verloor en moes 'n bloedoortapping ondergaan. Haar bekkenbeen is gekraak en vier van haar ribbes is ook gebreek.
Hy sê egter sy kon hierdie week vanuit die hoësorgeenheid na 'n kamer oorgeplaas word en dat sy teen Maandag telefonies met hom kon praat. Volgens hom is haar kanse op herstel goed, maar sy sal nog vir 'n geruime tyd in die hospitaal moet bly.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'